DRIE LEWENSBELANGRIKE VRAE
  God is alwetend. Géén mens kan Hom iets leer of meedeel waarvan Hy nie weet of kennis dra nie. En niemand kan enigiets vir Hom wegsteek nie, want "…daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het" (Heb. 4:13). Tóg vra Hy vir Adam: "WAAR IS JY?" (Gen. 3:9). Hierdie vraag impliseer baie meer as net die kennisname van die plek/lokaliteit waar Adam hom bevind. God weet presies op watter plek in die tuin Adam hom bevind EN Hy weet ook dat Adam wegkruip omdat Hy gesondig het. Hy sien Adam se geskonde hart en gedagtes en Hy weet dus baie goed in watter geestestoestand Adam verkeer. Maar in Sy neerbuigende goedheid besoek Hy Adam.
In plaas daarvan dat Adam homself voor God verootmoedig, berou toon oor sy sonde sodat sy verhouding met God herstel kan word, reageer hy negatief-beskuldigend op God se vraag. Hy verplaas sy vrees- en skuldgevoelens deur onmiddellik die blaam op God en sy vrou te plaas: "Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee…" (Gen. 3:12). Is dit nie kenmerkend van die optrede van die meeste mense nie? Hulle slegte/moeilike lewensomstandighede is altyd iemand anders se skuld!
Sou God vandag hierdie vraag aan jou en my stel: "WAAR IS JY?" Wat sal ons antwoord wees? Waar bevind ons ons in ons geestelike lewenswandel? Hoe lyk ons verhouding met God? Net jy alleen sal hierop kan antwoord. Maar God sal wéét!
En dan Hy kom ook met 'n verdere vraag: "WAAR IS JOU BROER…?" (Gen. 4:9). Hierdie vraag ondersoek ons geestelike welsyn, gesindheid en groei. God weet alles omtrent ons verhoudingslewe met ons 'broers' en 'susters'; met ons medemens. Hy weet hoedat ons mekaar "doodslaan" met ons woorde en dade. Hoe ons mekaar afknou en vermoor deur ons liefdelose, selfsugtige optrede. Hoeveel venyn en moorddadigheid dikwels in ons skuil. Ons het mekaar nie werklik lief soos wat God dit van ons verlang nie. Hy beveel dat ons selfs ons vyande moet liefhê (Matt. 5:44,45), terwyl ons nie eens diegene wat die naaste aan ons is, self-loos liefhet nie! (1 Joh. 3:16).
Net soos Adam verontskuldig Kain homself: "Hoe moet ek weet? Is dit miskien my werk om hom op te pas?" (Gen. 4:9 DLB). Ja! Dit ís my en jou verantwoordelikheid om sorg te dra vir ons 'broers'. Om verantwoordelikheid vir mekaar te aanvaar. "Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus" (Gal. 6:2). In Die Lewende Bybel lees ons in Rom. 15:1,2: "Die van ons wat sterk is in die geloof moet die probleme van ander Christene raaksien wat nie so sterk is nie en dit saam met hulle help dra. Ons mag nie net aan onsself dink en aan ons eie plesier nie. Elkeen van ons moet ook aan sy mede-Christen dink en doen wat hom kan plesier en sy geloof kan versterk." En dit behaag God mateloos wanneer 'broers' in absolute harmonie met mekaar saamleef: "Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! ….. want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!" (Ps. 33:1-3).
Maar God is nie net gemoeid met waar ek is nie. Hy wil ook weet: "…WAAR KOM JY VANDAAN, EN WAAR GAAN JY HEEN?" (Gen. 16:8). Hy wil hê dat ek my hele lewensbestaan in oënskou moet neem. Wat ek vandag is, het uitermate baie te doen met my verlede. Dit kan goed of sleg wees, maar dit is verby! Daaraan kan ek nie veel doen nie behalwe restitusie teenoor mense wat ek veronreg het. "Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande" (Gen. 16:9). Hoe moeilik dit ook al is om vir mense te gaan sê "Ek is jammer! Vergewe my!" is dit wat God van ons verwag. Sodoende kom daar heling en herstel vir beide partye en rus God se seën op ons. God se vraag is egter tweeledig: Nie net waar ek vandaan kom nie, maar ook waarheen ek op pad is! Wat gaan my eindbestemming wees? Dit is uiters belangrik dat ek oor my lewe besin, bestek opneem en saam met Paulus sal uitroep: "Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus" (Fil. 3:14 NV).

          Indeks