DANK GOD! VRY VAN ALKOHOLVERSLAWING!
  Deur God se oneindige groot genade kan ek hierdie getuienis skryf. Ek was vir meer as 30 jaar vasgevang in die kloue van alkohol en het al op skool gedrink as ek maar net drank in die hande kon kry.
Die effek van drank op my was sekerlik anders as op ander mense, want ek kon nooit genoeg daarvan kry nie. Daardie “lekker gevoel” kon niks anders op aarde ‘n mens gee nie!
Nadat ek uit die skool is, kon ek nie regtig meer drink soos ek wou nie, want ek was ‘n sportman. Ek het geglo dat ek in beheer was van alkohol, want ek het nie meer baie gedrink nie, en was fiks en gesond. Maar toe ek my doel bereik het deur Springbokkleure te verwerf in boks en oorsee gaan meeding het by die Statebondspele, het die bottel die oorhand gekry in my lewe.
Vir ‘n hele paar jaar het ek gedink dat ek nie ‘n verslaafde was nie, en ek het regtig probeer om nie in die openbaar dronk te word nie, maar ek het net méér en méér begin drink.
My familie, vriende en werkgewer het my gewaarsku, mooi gepraat en selfs gedreig, maar niks het gehelp nie. Ek het net opgehou drink wanneer ek te siek geword het. Dan het ek gesê: “Sien julle nou - drank is nie my baas nie, ek kan ophou wanneer ek wil!”
Die drinksessies het egter al hoe erger en langer geword, en dit het al hoe moeiliker geword om op te hou. Die verskonings en redes om my drinkery te regverdig, het ook al hoe meer geword.
Vandag moet ek erken dat alkohol my god was. Ek het gedrink as ek siek was, as ek ongelukkig was, finansiële moeilikheid gehad het en die bottel het my laat glo dat alles sal regkom as ek net nog ‘n paar doppe kon vat!
Alkohol het ook my gewete gesus oor baie dinge wat ek verkeerd gedoen het aan my familie en aan ander mense. So het dit aangehou vir 30 jaar.
Sowat 8 jaar gelede het elke drinksessie 6 weke geduur en dan het ek net gedrink en glad nie geëet nie! Uiteindelik het ek alles verloor wat ek gehad het, behalwe my vrou! Vir die eerste keer het ek besef dat ek die bottel nie kan wen nie, maar magteloos is teen die versoeking daarvan.
Ek het by die AA aangeklop en hulle het my gehelp en bygestaan sodat ek kon ophou drink. Maar na ‘n tyd het die dranklus my weer opnuut vasgegryp. Dit is regtig moeilik om ‘n nugter lewe te hanteer na soveel jare van verslawing. ‘n Sober alkoholis het ‘n geweldige stryd om te stry. Alleen sal hy nooit die mas kan opkom nie! God het my opregte begeerte om nie weer te drink nie, raakgesien en toe stuur Hy iemand op my pad wat my vertel het van die liefde van die Here Jesus en die genade van God. Ek het begin kerk toe gaan en Jesus aangeneem as my Ver–losser. Ek het geweet ek stry die stryd nie meer alleen nie!
Die geheim van my oorwinning lê opgesluit in die prys wat Jesus reeds op die kruis vir my betaal het! Daardie oorwinning kan elke mens ontvang as hy Jesus Christus aanneem en aan die Heilige Gees die beheer van sy lewe oorgee. Dan kan hy tot eer van God lewe en werk.
Mag die Here gee dat baie alkoholiste deur hierdie getuienis gered sal word!
Vandag is ek lid van die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD). Dit is nie meer ‘n stryd om elke dag te leef nie, want die CAD is ‘n hawe vir die afhanklike.
Ons kom een keer per week bymekaar, deel met mekaar ons probleme, dra mekaar se laste, bemoedig mekaar en die Bybelstudie versterk ons geloof. Deur mekaar gereeld te ontmoet, ontwikkel daar liefde, warmte en ‘n sterk gebondenheid en kameraadskap. Ons help mekaar om die pad te loop, ondersteun mekaar en stry saam die goeie stryd.
Die CAD verwelkom ook die lewensmaat en familie van die afhanklike deur hulle te leer om mekaar beter te verstaan. Dit is ‘n plek waar openlik gepraat kan word oor probleme en die afhanklike word geleer om weer met mense te skakel en weer deur die samelewing aanvaar te word. Hulle kan weer lewende lidmate word van hulle kerk.
Almal wat hulp nodig het, is welkom. Kom sluit aan by die CAD. Alles is gratis. Ons gee om en wil jou help. Byeenkomste is Woensdagaande om 19:00 in die kerksaal van die NG Kerk Mooirivier in Kerkstraat (langs Potch Towers).

Indeks     Index