WAARHEID EN LIEFDE
  Prof. Dries du Plooy Fakulteit Teologie PU vir CHO

Lees: Efésiërs 4:1-16. Vers 15a: “Ons sal in liefde by die waarheid bly.”
 
Inleiding
N.a.v. Efésiërs 4:1-16 wil ek drie aspekte aanraak, nl. Toerusting, Dwaalleer en Waarheid in liefde.
1. Toerusting
‘n Gelowige is iemand wat voortdurend toegerus moet word. Hierdie toerusting is volgens Efésiërs 4 veral die taak van die Kerk onder leiding van die ampsdraers. Christus, die verhoogde Here, wat na die hemel opgevaar het, en wat aan die regterhand van God sit vanwaar Hy alles regeer, het nie net sy Gees aan ons met die oog op toerusting gegee nie, maar ook die dienste (as gawes) van onder meer herders en leraars. Dit is waarom ons kerk toe gaan, katkisasie ontvang, Bybelstudie doen, en as gelowiges saamkom.
Ons moet toegerus word vir ons werk as gelowiges; ons moet bouwerk doen (die Kerk van Christus moet opgebou word) en ons moet kan weerstand bied teen dwalinge en sondige en verkeerde dinge waarmee ons daagliks te doen kry.
2. Dwaalleer
Die Bybel verwys dikwels na valse leringe, kettery, dwalinge en misleiding. Ons moenie daaroor illusies hê nie! Dit kan veroorsaak dat ons net so doelloos, koersloos en ankerloos in die lewe en in die wêreld rondswerf soos ‘n klein skippie in ‘n magtige oseaan waar winde van dwalinge ons soos groot winde op die see heen en weer waai totdat ons heeltemal verdwaal is.
Ons kry ook vandag in die onderwys te doen met allerlei gedagtes en standpunte wat nie met die leer van die Bybel ooreenstem nie, en wat ons en ons kinders kan verwar en laat verdwaal.
3. Waarheid in liefde
Teenoor die dwalinge in ons tyd en in ons wêreld, vind ons in die Skrif die waarheid van die Evangelie (Ef. 1:13).
Christus is die Waarheid, en die Kerk as gelowiges moet die pilaar en grondslag van die waarheid wees. Ons moet hierdie waarheid uitdra en vertoon aan almal!
Die vraag is ook: Hoe gaan ons met die waarheid om? Waarheid sonder liefde is onoortuigend, arm, koud en eintlik niksseggend.
Liefde sonder waarheid is kragteloos, sentimenteel, slegs ‘n voorwendsel en eintlik vals.
Dus: laat ons met balans, as goed toegeruste mense, die waarheid van Gods Woord bedien - ook in die onderwys en in die onderrig van ons kinders. Ons moenie teenoor geesgenote die handskoene aantrek nie, maar liewer saam probeer om die werklike vyand, en/of dwalinge (ook in die onderwys) te identifiseer en dan in die gesindheid van liefde by die waarheid te bly en die waarheid te dien.
[Hierdie boodskap is ‘n geredigeerde weergawe van die openingswoord van prof. Du Plooy tydens die Seminaar oor Intergeloof in die Onderwys, wat in die Sinodesentrum van die Gereformeerde Kerke in SA gehou is].

Indeks     Index