GESOEK: KANTOOR-
RUIMTE VIR GOD!
  (Lees Johannes 4:1-30). Ek is daarvan oortuig dat jy so ‘n advertensie aandagtig sou lees. Elke sekonde van die dag word mense op aarde gebore - almal met potensiële ruimte vir God om in te woon en te werk. Daar lê egter soveel onbenutte ruimte in mense se harte - soos pakkamers vol nuttelose rommel, stof en spinnekoppe! Daar is soveel harte wat buite aksie geraak het en ander wat heeltemal ontoeganklik geword het vir die Allerhoogste.
Hoe sal die miljoene bereik kan word tensy jy vir Hom ruimte maak? Hoe sal die gebrokenes getroos word tensy jy hulle trane afvee? Hoe sal hulle God leer ken as jou mond nie tot Sy beskikking is nie? Wie sal die brood van die lewe vir die hongeriges aanbied as jy nie joune wil deel nie? Hoe sal hulle wat deur die woestyn gekom het, se dors geles kan word as jy hulle nie by die Fontein van Lewe uitbring nie?
Die Samaritaanse vrou by die put se hart was inderdaad nie ‘n geskikte kantoorruimte vir God nie, maar Jesus het haar potensiaal raakgesien. Hy gee haar ook ‘n skepding in die hand toe Hy vir haar sê: “Die Vader soek ook mense...” en sy het dadelik vir diens aangemeld en ‘n formidabele evangelis in haar stad geword. Sal jy nie maar ook vir Hom ‘n kantoor in jou hart inrig nie?
Gebed: Here, hier is ek. Reinig en heilig my en gebruik my in u diens.
www.bybel.co.za

Indeks     Index