STAAN STIL!
  God roep Saul tot stilstand. Hy het ‘n boodskap om aan hom oor te dra. Samuel sê in 1 Sam. 9:2: "Beveel die dienaar dat hy voor ons uit verder gaan… maar staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor."
Saul word deur God geroep om ‘n lewenstyl van “maak tyd om na My te luister,” aan te kweek. As ons egter na sy lewe kyk, kom ons agter dat hy jammerlik hierin gefaal het. Miskien het hy te gewoond geraak daaraan om die stem van die Here via Samuel te hoor. Hy het nie self na God gegaan, stil geword en na God se raad gevra nie. Die gevolg was dat Saul telkens verkeerde besluite geneem het met verreikende gevolge. Dit het uiteindelik tot sy vroeë en tragiese dood gelei op die gebergtes van Gilboa.
In teenstelling met Saul het Dawid van jongs af die regte lewenstyl aangekweek. Sy hele lewe weerspieël hoedat hy die Here gedurigdeur gesoek het. Daarom kon hy elke moontlike krisis die hoof bied. Dit het ook meegebring dat hy bo sy eie behoeftes uitgestyg het en op 'n plek in sy verhouding met die Here gekom het waar hy die Here net kon aanbid vir Wie Hy is, en nie slegs vir wat Hy vir hom gedoen het nie.
Dawid het geleer om voortdurend by die Here stil te staan en na Sy raad te luister. Dawid se oorwinnende lewenswandel het Saul hatig gemaak, omdat hy besef het wat hy prysgegee het. Hy kon in Dawid se lewe sien hoe sy eie verhouding met God behoort te wees. Omdat Saul se eie menslike planne misluk het, maar Dawid telkemale sukses behaal het, het hy alles in sy vermoë gedoen om Dawid dood te maak. Dit was ook die geval met Kaïn wat hatig op Abel geraak het omdat hy in 'n intiemer verhouding met God gestaan het. Daarom het hy hom doodgeslaan. Saul is voor 'n keuse gestel: Volg Dawid se voorbeeld na, gee jou lewe aan God oor en kweek die regte lewenstyl, of behou die slegte en verkeerde, haat Dawid en maak hom dood!
Mag ons elkeen die regte keuse maak: om gedurig by God stil te staan. Om nie te wag vir ‘n krisis om Hom te raadpleeg nie, maar in elke lewensomstandigheid Sy raad en leiding te soek. Dan sal ons bewus wees van die voortdurende Teenwoordigheid en leiding van die Here in ons lewens!

Indeks     Index