SOEPEL SOOS 'N CHAMOIS
  ‘n Chamois of seemsleer word deur die HAT omskryf: “Sagte leer van skaap- of bokvel op ‘n besondere wyse gelooi.” Die leer word oor en oor gebrei om sag en bruikbaar te word. Só sag dat dit besondere bruikbare kwaliteite verkry wat dit nie voorheen gehad het nie.
Omdat dit so ‘n heerlike sagte, bruikbare artikel geword het, is dit baie gewild en staan maar net bekend as ‘n shammy (Eng.).
Die chamois se bruikbaarheid lê veral in sy sagtheid en soepelheid.
Wanneer God met ons werk, is sy uiteindelike doel om ons sag en bruikbaar te maak soos ‘n chamois. Wanneer ons aan Hom oorgee, sal Hy ons oor en oor brei om alle hardheid van die vlees uit ons uit te kry. Die “ek” met ons eie begeertes moet oor en oor gekruisig word, sodat ons sag en bruikbaar kan word in God se hand.
Jesus het gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:29-30).
Dan sê Jesus ook: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5).
Nadat Moses 40 jaar in die woestyn deurgebring het, het die HERE hom geroep om sy volk uit Egipteland uit te lei. Ten tye van opstand teen hom deur sy eie broer en suster, sê die Bybel: “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Num. 12:3).
Sonder sagtheid of sagmoedigheid is dit moeilik om werklik ‘n bruikbare instrument in God se hand te wees. Is dit nie dalk wat met mense gebeur nie? Verloor ons nie dikwels ons soepelheid en sagtheid nie? Baie faktore dra hiertoe by, o.a. materialisme, gelykvormigheid aan die wêreld, eiewaan en selfsug.
Só raak ‘n mens onbruikbaar vir God. Die chamois het te lank in die son gelê. Dit moes in die houer klam gebly het.
Klamheid verteenwoordig die teenwoordigheid en salwing van die Heilige Gees in ons lewe. In God se hand bly ons “klam” van die salwing; dan is ons sag en bruikbaar vir Hom.
Miskien is daar tog hoop! Hoop om deur die moeilike tye weer ons God vas te gryp en ons sagtheid en soepelheid terug te kry, sodat ons bruikbaar vir Hom kan wees.
Ons moet almal saam hande vat en by God uitkom! Dan sal daar hoop wees vir die Kerk in Suid-Afrika!

(JJ Venter)

Indeks     Index