GOD SPAAR ONS LEWENS!
 

Sally Pretorius
(018) 297 8045 of 082 876 5385


Wat die Psalmdigter sê, is volkome waar! "Omdat Hy my liefhet, spreek God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm omdat hy My Naam ken" (Ps. 91:14). Hoe wonderlik om dit te weet en te ervaar!
Draaie, kronkelpad, afgronde, prag-tige natuurtonele begroet jou as jy deur die Abel Erasmuspas ry. Hierdie pad ry ek en my man al vir 13 jaar vandat ons dogter en haar gesin in Phalaborwa woon. Ons weet dus dat dit veral op die plato is waar baie swartmense woon en dat hulle beeste en boerbokke gedurig langs die pad wei. Daarom behoort 'n mens uiters versigtig te bestuur omdat 'n bees of bok voor jou in die pad kan verskyn. Op 26 Okt. 2000 het ons weer die pad na Phalaborwa aangedurf vir 'n langverwagte kuier. By die Pas het 'n groot trok voor ons gery en kruipende is ons om die draaie, berg af en berg op. Uiteindelik lê die lang en reguit pad voor ons uitgestrek en een vir een gaan die 8 voertuie wat agter die trok opgehoop het, rustig by hom verby. Ons beurt kom toe ook. Skielik, asof van nêrens, kom 'n pikswart bees uit die bosse van regs na links oor die pad gestap! Die pad was nat en glad van 'n reënbui wat vroeër geval het. Braam trap rem en die wit Camry swaai sy agterkant en gly. Die momentum van die motor laat hom teen die randsteen bots. Ek roep net: "Wat nou?" en Braam sê: "Nou is dit klaarpraat!" Toe is ons oor die randsteen en by 'n skuinste af. Braam en ek was op hierdie stadium bewusteloos, onbewus van wat om ons aangaan. Later sou ons opmerk dat met die afkom teen die wal af, die voorkant van die motor 'n groot rots getref het wat veroorsaak het dat die motor bollemakiesie geslaan het en terselfdertyd skuins moes gedraai het. Toe ek weer bykom, hoor ek bakwerk skeur en 'n harde gedoef-doef!! Dan sien ek net groen bosse, gras en blou lug verbyskiet! Ek hou my arm voor my en Braam sê net aanhoudend: "Wanneer kom die motor dan tot stilstand?" Uiteindelik land die motor met 'n harde slag op sy wiele, maar dié slag stamp my been teen die deur vas! Braam roep: "Kyk die bloed! Jy het seergekry! Maar ons moet hier uitkom, want die motor kan aan die brand slaan!" Daar was 'n ssjj-geluid en stoom het ook by die enjinkap uitgeborrel! In ons haas om uit die motor te kom, kon ons dit nie regkry om die deure oop te kry nie! Ek het my veiligheidsgordel losgemaak en tussen die voorste sitplekke na agter gekruip. Braam het oorgeskuif na my sitplek en die deur met albei sy voete probeer oopskop. Dit was moeilik want die dak was heeltemal ingeduik. Die volgende oomblik was daar twee swartmans wat die deure van buite oopgeruk en ons uitgetrek het! Die bestuurder van die trok het ook stilgehou en gevra of hy kon help. Hy het toe die polisie in kennis gestel van die ongeluk. Met gekneusde ledemate, blou en swart kolle en 'n paar steke aan Braam se elmboog het ons baie lig daarvan afgekom! Ons kan die Here nie genoeg dankie sê vir Sy beskerming en genade nie! Sonder Sy hand van beskerming was ons beslis nie meer in die land van die lewendes nie! Ek glo vas dat Hy Sy engele opdrag gegee het om ons te beskerm!


Indeks     Index