ONS STEL BEKEND...
Die NG Kerk Vyfhoek Potchefstroom
  Ds. Tinus Roux

Die gemeente het sy ontstaan gehad teen die einde van die sestigerjare. Die eerste kerkraadsvergadering van die gemeente is op 28 Jan. 1969 gehou. Die eerste eredienste is in die skoolsaal van Bailliepark gehou.
Op 24 Jan. 1979 word besluit om kerk te bou. Die inwyding vind plaas op 15 Mei 1982. In 1988 word die vleisbewerkingslokaal "De Mulen" ingewy wat veral vandag nog gebruik word tydens basaartye waar tot 16 beeste in een week bewerk word.
Hierdie gemeente is o.a. deur die volgende predikante bedien: Di. Conradie, JJ Grobler, dr. BJ Schutte, di. De Bruyn, Leon Barkhuizen en dr. Louis Fourie. Die huidige leraars is ds. Tinus Roux en ds. Eljam Vosloo. Die gemeente is op die oomblik in 'n beplanningsfase waarin daar opnuut gesoek word na die wil van die Here vir die gemeente.
Ons vra ook die vraag hoe ons gemeente moet lyk en funksioneer in die nuwe millennium.
In die NG Kerk in die breë is 2001 'n jaar van hoop en wil ons as gemeente ook die hoop van God vir 'n wêreld wat verlore is, gaan bring. Die Kerk moet deur dít wat hy is en leer van Jesus Christus, hierdie hoop bring.
Deur sy liefde, sy diensbaarheid, die uitreik na mense in nood, die armes, die werkloses, die wat honger is, die wat sterwe sonder Christus, moet hy hierdie hoop uitdra. Dit is hoe ons die hande en voete van Jesus moet wees in die wêreld waarin ons leef.
Ons is as gemeente ook betrokke by sendingwerk, in die besonder die sending in die Oekraïne.
Ons selgroepe het in 2 jaar geweldig gegroei en is besig om 'n steeds groter wordende rol in die gemeente te speel deur betrokke te raak by die bediening aan siekes, die gee van blomme vir die kerk, asook die onderlinge versorging wat in die selgroepe plaasvind.
Ook die jeug is baie aktief, met groepe van tot 60 kinders wat jeuggeleenthede bywoon.
Die vrouediens is baie aktief by die versorging van kinders van die ES le Grange Skool en Amelia Nasorgsentrum, asook 'n huis van Abraham Kriel. So is die gemeente reeds besig om 'n verskil te maak in baie kinders en mense se lewens.
Tydens spesiale diensreekse soos verlede jaar met ds. Vernon Louw was ons gemeente volgepak. Hierdie jaar kom dr. Murray Janson ons besoek.
Sondagaande vat drie gemeentes hande en word daar lofprysingsdienste gehou. 'n Sterk begeleidingsgroep is op die been gebring en roteer tussen die gemeentes. Dit vind groot byval by gemeentes en die getalle groei steeds elke aand.
Al hierdie dinge is alleenlik moontlik deur God wat ons die krag daartoe gee. Hy begelei ons deur sy liefde en genade. Aan Hom kom alle eer toe vir dit wat elke dagin die gemeente gebeur!

Indeks     Index