ONS STEL BEKEND... Nederduitsch Hervormde Kerk Potchefstroom Gemeente
  Ds. Willem Kok
Die Moedergemeente van die Hervormde Kerk vier tydens die naweek van 15 tot 17 Maart 2002 sy 160ste bestaansjaar.
Op 26 en 27 Maart 1842 het ds. Daniël Lindley in Potchefstroom kerk gehou. Tydens hierdie gebeure is die Nederduitsch Hervormde Gemeente Potchefstroom gestig. In 1853 ontvang die gemeente sy eerste predikant in die persoon van ds. Dirk van der Hoff. Hy het baanbrekerswerk in die wyd uitgestrekte gemeente gedoen.
In 1859 is die hoeksteen van die huidige kerkgebou gelê. Weens die onrus in Transvaal kon die kerkgebou eers in 1866 ingewy word. Die kerkgebou is 'n historiese monument en steeds 'n belangrike baken in Potchefstroom. Elke Sondag word daar eredienste in die kerkgebou gehou en die gemeentesang word begelei deur die pragtige orrel wat in 1891 geïnstalleer is.
Die gemeente wat oor die jare verskeie afstigtings beleef het, se grense omsluit die middestad van Potchefstroom. Die gemeente bestaan tans uit 852 lidmate, waarvan 632 belydende lidmate is.
Potchefstroom gemeente is 'n baie aktiewe gemeente en die lidmate werk en leef met toewyding. Op die terrein van barmhartigheidswerk is lidmate baie aktief besig met die versorging van siekes, bejaardes, kinders in nood en mense wat hulpbehoewend is. Verskeie projekte met die oog op noodlydendes word jaarliks aangepak en deurgevoer.
Die jeug is vir die gemeente 'n kosbare kleinood. Baie aandag word aan die kinders gegee. Ons jongmense moet geestelik weerbaar gemaak word en daarom word hulle deeglik toegerus sodat hulle hul geloof in Jesus Christus met oorgawe kan uitleef. Daar is ook tyd vir ontspanning en verskeie uitstappies word vir die verskillende jeuggroepe gereël.
Verskillende gemeentekomitees maak dit vir elke lidmaat moontlik om sy of haar gawes ten volle uit te leef. Gemeentekomitees vir Erediens, Gesinsorg, Apostolaat en nog andere, bied geleenthede waar elkeen toegewyd dankbaar dienswerk kan verrig.
Die gemeente is ook aktief besig met Evangelisasiewerk. Toerustingsgeleenthede in hierdie verband word gereeld aangebied en lidmate kom so tot 'n al groter vrymoedigheid om hulle geloof te verwoord.
Die jaarlikse Motorskou op 1 Mei is ook al sinoniem met Potchefstroom Gemeente. Hierdie is 'n geleentheid waar lidmate die geleentheid kry om heerlik saam te werk en so hulle blymoedigheid in die geloof uit te leef.
Verskeie ander geleenthede soos Bybelstudies, seminare, 'n gemeentekoor, die jaarlikse gemeentekamp en ander projekte dra daartoe by dat die gemeente 'n lewende gemeente is wat die Here graag dankbaar dien vir Sy genade in Jesus Christus.
Die gemeente vier hierdie jaar met dankbaarheid fees. As daar teruggekyk word, word die beskermende Hand van God raakgesien. 'n Mens besef dat die Here self Sy kerk in stand hou. Daarom sien die gemeente ook positief uit na die toekoms.
Ons lewe en die lewe van die gemeente, is in die Hand van die Here. Hy is ons toevlug, ons beskerming en ons veilige vesting!

Indeks     Index