LOF EN DANK AAN GOD!
  My matriekjaar was ‘n nagmerrie! Ek het aanhoudend moeg en bewerig gevoel. Dokters kon nie vasstel wat die oorsaak van my kwynende gesondheid was nie. ‘n Sielkundige het besluit dat ek aan “skoolsiekte” ly, maar na nóg ‘n besoek aan ‘n plaaslike dokter, het hy vasgestel dat my niere onderontwikkeld was! Volgens hom kon ek lankal in ‘n koma verval het, aangesien my liggaam reeds vir ‘n geruime tyd geen gifstowwe uitgeskei het nie!
Igna en Ina van den Bergh
  Ek was só swak dat ek my rekordeksamen in die hospitaal moes skryf! Die volgende jaar het ek ‘n nier van ‘n skenker van Johannesburg gekry wat in ‘n motorongeluk dood is. Dit het baie goed met my gegaan, maar gedurende Julie 2000 het die oorgeplante nier net skielik opgehou funksioneer. Ek moes drie keer per week vanaf Potchefstroom na Klerksdorp toe ry vir dialise-behandeling. Elke sessie het ongeveer 4 ure geduur en dit het behels dat bloed uit een arm getap word, deur die dialise-masjien gesuiwer word en weer deur ‘n ander naald in die liggaam teruggepomp word.
Daar is egter baie newe-effekte verbonde aan so ‘n behandeling. ‘n Mens mag byvoorbeeld net 500 ml vog per dag inneem. Dit was ‘n baie moeilike tydperk in my lewe.
Oktober 2001 het ek verdere slegte nuus ontvang. Dit was gebiedend noodsaaklik dat ek weer ‘n ander nier moes kry om te oorleef. My ma, Ina, het voorgestel dat een van haar niere op my oorgeplant word. Na baie toetse is besluit dat die operasie op 29 Oktober sou plaasvind.
Met my ma het dit baie goed gegaan na die operasie, maar my lewe het gedurende November en Desember 2001 dikwels letterlik aan ‘n draadjie gehang. Baie mense in baie verskillende kerke, sowel as familie en vriende het vir my gebid. Selfs my niggie in Kanada het laat weet dat daar ook mense ‘n gebedsketting vorm en vir my bid. Ons wil almal wat gebid en ons ondersteun het, bedank vir hulle liefde. Aan God al die eer wat ons deur hierdie moeilike tye gedra en aangeraak het. Ons loof Hom as die God van die onmoontlike!
Igna van den Bergh
Tel. (018) 294 8417 of 083 359 6557.

Indeks     Index