] Maart 2002 - Ek Wil Liewer Verkluim...
EK WIL LIEWER VERKLUIM...
  Die wind was ysig koud toe Pytor na die kwartiermeester se kantoor oorgestap het. Die sneeu het reeds twee voet dik gelê, en groot hope wat die oggend van die paaie af gevee is, het oral opgestapel gelê, net om weer deur die wind verwaai te word. Selfs in sy swaar jas het Pytor baie koud gekry, maar hy was vol vreugde en ook dankbaar vir hierdie onverwagse geleentheid om stil te wees
  en alleen met die Here te praat. Hy het die sneeu van sy stewels afgeskud toe hy by die deur van die voorrade-departement instap, en 'n briefie aan die ouerige korporaal agter die toonbank oorhandig. "'n Someruniform! Wat is aan die gang - 'n toneelopvoering?" vra die ou man toe hy die nota lees. "Noem dit so as u wil korporaal," lag Pytor. "Nee, dit is vir my. Ek is gelas om vannag met 'n someruniform buite in die straat te staan." Die man het hom ongelowig aangestaar. "Jy skeer die gek," het hy gesê. "Ek gaan my nie deur 'n jong outjie soos jy laat vang nie. Dit sal meer as my lewe kos om die verkeerde uitrusting aan jou uit te reik. Ek gaan hierdie versoek eers kontroleer." Hy het die hoofkantoor geskakel, 'n kort en kragtige antwoord gekry en toe die gehoorstuk met 'n bekommerde uitdrukking teruggeplaas. Hy het die kledingstukke een vir een agter in die stoor gaan uithaal en oor die toonbank aangegee. Hy het sy kop geskud en Pytor verslae aangekyk. Dit moet die jongman wees wat gestraf word omdat hy nie bereid is om van sy geloof in God afstand te doen nie.
"Hoekom los jy dit nie, seun?" het hy gevra. "Dit gaan 'n ysige nag wees en jy sal dit nooit oorleef nie. As jy dan in God moet glo, doen dit net in stilte – as jy aanhou om daaroor te praat, sal hulle jou uiteindelik kry. Hulle is sterker as jy. Jy kan nie wen nie!" "Ek weet ek kan nie wen nie," sê Pytor, "maar my God kan. Hy is almagtig en as Hy my beveel om te praat, dan moet ek aan Hom gehoorsaam wees. Moenie bekommerd wees nie, Hy sal vannag by my wees terwyl ek in die sneeu staan." "Wel, ek dink jy is 'n jong dwaas, maar ek moet sê, ek bewonder jou moed. Neem die advies van 'n ou man en gee in, anders wil ek nie dink wat jou einde gaan wees nie." "Ek weet u bedoel dit goed, maar ek kan onmoontlik nie so ontrou teenoor my God wees nie. In werklikheid sê God vir ons in die Bybel dat daar tye sal wees dat Sy volgelinge gevra sal word om dwase ter wille van Christus te wees (1 Kor. 4). Hy sal Sy engel stuur om my te help, net soos Hy altyd aan Sy diensknegte doen wat ter wille van Hom moet ly." Hiermee het hy sy someruniform opgetel en by die vertrek uitgestap. Dit was bitter koud toe hy teruggestap het, en sy moed het so effens begin wankel. Hy het 'n liedjie gefluit wat in sy gedagtes opgekom het – "die blydskap van die Here is julle beskutting" – en dadelik weer beter gevoel.
Soos die nuus deur die kamp versprei het, is Pytor baie lastig geval deur manne wat aanhoudend aan hom vrae oor sy geloof gestel het. Hy het met oortuiging oor sy godsdienstige beskouings gepraat, maar dit was duidelik dat hulle almal gedink het hy is mal.
Dit was 22:00 en die ligte was uit. Nadat Pytor sy someruniform aangetrek het, het hy uitgestap in 'n temperatuur van minus 10 grade C. Die ysige wind het deur die dag toegeneem en het nou met sterk vlae teen hom aangewaai terwyl yskegels oral aan sy gesig en ore gevorm het. Sy eerste gedagte was om in die relatiewe warmte van die slaapsaal in te hardloop, maar in plaas hiervan het hy begin bid. Terwyl hy gebid en gesing het, het die warmte en liefde van God hom vervul, en hoewel hy nogtans baie koud gekry het, het hy nie verkluim nie.
Teen 24:30 het twee offisiere, in groot jasse toegewikkel, daar aangekom. Hulle het aanhoudend hulle voete gestamp en gebibber van die koue. Hulle het Pytor effe vreesagtig aangekyk asof hulle verwag het om 'n gevriesde lyk aan te tref. Inderdaad het hy soos een gelyk, maar hy het opgewek na hulle omgedraai toe hulle hom gevra het of hy nie liewer wou afsien van sy idees en inkom nie. "Ek sou baie graag wou inkom," het hy eerlik geantwoord, "maar nie as dit beteken dat ek van my geloof in God moet afsien nie – dit sal ek nooit doen nie." Hulle het met hom geargumenteer en waarlik jammer vir hom gevoel; ook was hulle met reg bekommerd dat hy weldra sou verkluim en sterf. Uiteindelik het hulle hom daar laat staan, omdat hulle self te koud gekry het om langer buite te bly.
Na nog 'n uur of twee het die slaap hom begin oorval. 'n Gevoel van neerslagtigheid het oor hom gekom en hy moes stry teen die duiseligheid in sy kop terwyl hy hard probeer het om op sy voete te bly. Gedagtes van wanhoop het in sy oorspanne brein posgevat - gestel nou een van sy ledemate het doodgevries. Gestel hy moes die res van sy lewe sonder 'n arm of 'n been deurgaan? Die gedagte was vreesaanjaend. Hy het gehoor van die ontsettende pyne wat mens teister wanneer die lewe weer na halfverkluimde ledemate terugkeer - sou dit sy lot wees?
Terwyl die versoeking in sy gedagtes ál groter geword het en openlike vrees die oorhand oor hom begin kry het, was dit skielik asof hy 'n groot lig bokant hom sien en 'n Stem hoor wat tot hom spreek: "Moet nie bevrees wees nie want, Ek is met jou." Warmte en vertroosting het opnuut van hom besit geneem en deur sy liggaam versprei. Hy het weer begin om te bid en die Here te loof totdat hy later weer so op sy voete gestaan en sluimer het dat hy nie meer kon dink nie. Dit was toe dat hy 'n ander stem hoor wat tot sy bewussyn deurdring en hom meedeel dat dit 03:30 was en dat hy die res van die nag na sy slaapbank kon terugkeer. Dit was nie meer lank voor die oggendsinjaal om 06:00 sou afgaan nie. Terwyl hierdie offisier, wat hy nog nooit ontmoet het nie, saam met hom na die barakke terugstap, sê hy in 'n fluisterstem: "Jou God moet vir jou baie werklik wees, vertel my meer van Hom". Baie saggies, terwyl hulle stadig terugstap, was Pytor in staat om aan nog iemand die verhaal van God se liefde en verlossing in Christus Jesus te vertel. Vir Pytor was die vriesende nag buite die moeite werd net om teenoor hierdie een man te kon getuig.
Vir twaalf nagte na mekaar is hy gedwing om buite in die snerpende koue te staan, totdat die owerhede finaal opgegee het en besluit het om ander martelmetodes toe te pas. Menslik gesproke moes hy daardie eerste nag reeds dood gewees het, maar hy het geglo dat die "Engel van die Here 'n laer trek rondom die wat Hom vrees, en hulie uitred" - en daardie Engel het Pytor persoonlik besoek!
(Uit: "Ek wil liewer vervolg word..." - Marguerite Warburton)

Indeks     Index