KOM SWEM IN GOD SE STROOM!
  Waar ‘n stroom sterk vloei, is daar nie opdrifsels nie. Opdrifsels en brak poele word aan die oewers gevind. Opdrifsels is nie Jesus se bedoeling vir Sy Bruid nie, maar ‘n diep, helder stroom van Sy Gees. Ons moet egter ons vlees kruisig en swem om by die helder water uit te kom. Die opdrifsels in ons lewe is soos kaf wat van die koring geskei moet word. Kaf nie kan voed nie, en opdrifsels kan nie ons dors les nie. Slegs die helder stroom water van God se Gees kan ons dors les.
Die sterk stroom vloei see toe. So is daar ook ‘n bepaalde doel en vooruitgang in die stroom van God: ‘n eind-bestemming. Slegs diegene wat in die stroom bly ten spyte van ontberinge, kom by die eindpunt uit. Tog is dit ‘n risiko vir die “vlees”. Daarom lei die Gees van God die “vlees” na die dood toe, want “vlees” kan nie oorleef in die diep stroom nie. Die “ek” móét sterf! Maar “ek” wil oorleef by die brak poeletjies en opdrifsels wat vir niemand iets beteken nie...
Opdrifsels stagneer en maak die mens tevrede met die poeletjies. Dit was ook eens mooi helder en skoon water, maar onreinheid het stagnasie veroorsaak. Die stilstaande water het bilharzia tot gevolg gehad; ongeskik vir menslike gebruik.
Ook broei paddas en insekte in poeletjies. Die kind van God mag nie tevrede wees met die poeletjies waar gevare en kieme skuil nie. Verlang na die helder, skoon water van die Gees! Daar is genoeg vir elkeen wat die moeite wil doen om na die diep water te gaan. Moenie uit pas wees met die Heilige Gees nie - liewer uit pas met die opdrifsels en brak poeletjies van hierdie wêreld! Want die twee is onversoenbaar!
Die Bruid moet in die helder stroom bly om haar kleed skoon te hou. Tussen die opdrifsels word haar kleed besoedel.
In die sterk stroom mag daar wel ook rotse en draaikolke wees, maar met God se leiding en beskerming sal Hy ons by ons eindbestemming uitbring. Ons moet - soos wat ‘n kanovaarder sy reddings-baadjie aantrek - ook ons “reddingsbaadjie”, die wapenrusting van God, aanhê. So sal ons gepantser wees teen die aanslae van die vyand.
Laat ons die poeletjies en opdrifsels verlaat en na die diep water toe gaan! Slegs dán sal ons ‘n vervulde lewe in God hê en met ‘n rein hart by ons eindbestemming aankom...

Indeks     Index