ONS HET 'N SAMELEWING GESKEP...
  ONS HET 'N SAMELEWING GESKEP waar elkeen-vir-homself-en-de-duiwel-met-die-res die ongeskrewe spelreël is. In 'n soort Olimpiese wedloop woed ons voort: altyd hoër, altyd vinniger, altyd verder. Só stel ons ook die ideale mens voor: jonk, gesond, mooi, selfoon-in-die-hand-suksesvol.

Dit maak ons ongeduldig met stadige bewegers: gestremdes, depressielyers, bejaardes.
Dit maak ons gevoelloos vir lyding: straatkinders, vigslyers, randfigure.
Dit maak ons ongemaklik met die agterosse: bankrotverklaardes, sukkelaars, armes.

Selfs ons uiterlike gebare van vriendelikheid en omgee word 'n berekende spel:
Vir 'n goeie saak kan 'n mens gee - jy trek dit mos van belasting af.
Vir Mevrou moet ons blomme stuur - Meneer sal dit raaksien en môre onthou.
Vriende en invloedrykes nooi ek vir ete - "networking is the name of the game".

Liefde maak ons kwesbaar. Vir stop langs die pad.
Liefde skep deernis. Vir inleef met ander.
Liefde maak ons hart oop. Vir gee sonder "bereken".

Hy wat Liefde is, het gesê: Vir sover julle dit aan die geringstes - dié wat langs die pad geval het - doen, doen julle dit aan My. En as jy iemand sien swaarkry en jy het geen gevoel vir haar of hom nie, hoe kan die liefde van God in jou wees?
[Inleidend, Piet Naudé: Stories vir die Lewe-Omnibus, Lux Verbi, 2002].

Indeks     Index