ONS STEL BEKEND...
 

Ds. A. Kritzinger

Op 22 Januarie 1954 het die gemeente Orkney van die Schoonspruit-gemeente afgestig. Op 22 Januarie 2004, 50 jaar later, het Orkney Moedergemeente nou hulle goue Jubileumjaar met groot dankbaarheid gevier.
Een van die vorige leraars van die gemeente, ds. Ellis, het langs die pad by Vaal Reefs 'n yslike granietrots gesien. Hy het dit tydens die 25ste gedenkjaar van die gemeente as gedenksteen daar opgerig en verwys na 1 Samuel 7:12 - "Toe het Samuel 'n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Eben-haéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die HERE ons gehelp."
Die gemeente het nou weer eens bely dat God steeds met hulle is en het o.a verklaar:
* Ons vier fees om die Drie-enige God te dank vir soveel seëninge.
* Ons vier fees om die Koning van die Kerk te loof vir Sy getrouheid en bystand.
*Om fees te vier, beteken vir ons dat ons die teenwoordigheid van die Here in ons lewens raaksien.
* Om fees te vier, beteken vir ons dat ons in die geskiedenis die handewerk van die Here herken en erken.
* Om fees te vier, beteken dat ons vorentoe sal kyk na 'n sekere en veilige toekoms as kinders van die Here.
* Om fees te vier, beteken vir ons dat God steeds getrou bly en dat Hy ons in die stryd aanvoer.
* Om fees te vier, beteken dat ons ons eie ontrouheid in die lig van Sy getrouheid besef.
* Ons feesviering is ons gelofte dat ons steeds sal volhard in ons daaglikse bekering en heiligmaking.
* Ons begeer om deur Hom in hierdie wêreld gebruik te word.
* Om fees te vier, is om onsself en alles wat ons is en het, aan God in diensbaarheid en toewyding beskikbaar te stel.
* Ons onderneem om waaragtig Liggaam van Christus te wees.
Die gemeente koester ‘n diepe begeerte dat die volgende jare heerlike, vreugdevolle en steeds meer vrugbare jare sal wees en ons wag op die Koms van die Here op die laaste dag met die voleinding van alle dinge met 'n sekere hoop en 'n vaste vertroue!

Indeks     Index