GENOEG
  Sê nou maar jy kon met een van die klein vissies in die see praat en hy sou vir jou sê hy is bekommerd dat daar dalk nie genoeg water vir hom sal wees om in te swem nie. Dit sou belaglik wees, nie waar nie? Jou antwoord sou wees: "Vissie, moet jou tog nie daaroor bekommer nie – daar is meer water in die see as wat jy ooit kan besef." Stel jou voor dat jy vir 'n mier sou vra of daar iets is wat hom kwel en hy sou sê: "Ek bekommer my dat daar dalk nie genoeg grond vir my sal wees om nes in te maak nie." Jy sou vir hom sê: "Miertjie, die Here se aarde is groot genoeg vir jou." Of stel jou voor dat jy 'n arend sou teëkom wat neerslagtig op 'n tak sit en as jy hom sou vra wat sy probleem is, sou sê: "Ek wil graag vlieg, maar sê nou maar daar is nie genoeg lug vir my om in te vlieg nie?" Wat sou jy vir hom sê? Dis net so belaglik – of eintlik hartseer – as kinders van die Here hulle bekommer: "Sal die Here se genade vir my genoeg wees?" Wie kan God se genade meet? As Hy sê: "My genade is vir jou genoeg," is dit baie meer as wat jy ooit vir 'n vissie of 'n mier of 'n arend sou kon sê.
Eendag was Jesus se dissipels bekommerd omdat hulle nie genoeg brood by hulle gehad het nie. Nadat Jesus met hulle gepraat het oor oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, het Hy vir hulle gevra: "Onthou julle nie?" Hy wou hê hulle moes nadink oor hoe Hy reeds in mense se behoeftes voorsien het. As jy aan die toekoms dink, onthou die genoegsaamheid van die Een wat ons geroep het. Daar is genoeg van sy vrede. Daar is genoeg van sy krag in ons swakheid. Daar is genoeg van sy vergifnis. Daar is genoeg van sy getrouheid. Daar is by Jesus Christus genoeg in elke opsig en vir elke omstandigheid as ons maar net oë het om dit raak te sien en ore om te hoor.
Die dissipels het 'n probleem gehad met hulle sien en hoor. Hulle het self gesien hoe duisende mense voor hulle sit nadat hulle klaar geëet het, met mandjies vol wat oorgebly het. En tog moes Jesus later vir hulle vra: "Onthou julle dan nie?"
- Uit Decision

Indeks     Index