UITREIK NA NAMIBIË
 


Ds. Gawie van der Merwe

Elf mense (9 Potchefstromers en 2 van Klerksdorp) het pas teruggekeer uit Hereroland-Wes in Namibië waar hulle vir 2 weke 'n evangelisasieveldtog saam met die gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk te Okakarara gehou het. Dit was die vierde agtereenvolgende jaar wat ds. Gawie 'n uitreikspan daarheen gelei het. Hy het in 1983 met pionierswerk onder die Herero’s begin en daarna vir 14 jaar as sendeling onder hulle gewerk.
Vanjaar is weer eens baie hard gewerk en is 'n totaal van 41 dienste by die kerk, onder bome in die opelug, en by skole gehou. By hierdie dienste, asook met daaglikse huisbesoek, is 6 494 mense met die evangelie van Jesus Christus bereik.
Gedurende die uitreik het 383 persone ‘n oorgawe gemaak. 81 Bybels, 200 Bybelstudiegidse en 240 boekies met 'n uiteensetting van die Evangelie, asook baie traktaatjies is versprei en 150 sweetpakke wat vooraf gemaak is, is aan die kinders by die kerk gegee.
Soggens is Bybelstudie met gelowiges en die vroue wat opgedaag het vir 'n naald-werkprojek, gedoen voordat uitgegaan is op huisbesoek. Talle naaldwerk-artikels is gemaak en sal verkoop word en die geld aan die persone wat dit gemaak het, gestuur word. Daar is soveel werkloosheid en armoede dat elke sent help. Skoling met 3 groepe gelowiges (70 mense) is op verskillende plekke gehou om hulle te leer hoe om iemand na die Here te lei. Die kerkraad en leiers is geskool in bestuursvaardighede en die beplanning van projekte. Die gelowiges funksioneer o.l.v. Jansen Ngairo, ‘n geestelike werker en die kerkraad en beter toerusting is noodsaaklik om die werk wat hulle self met oorgawe doen, meer effektief te kan uitvoer.
Die eerste Saterdag in Herero-land het die groep 'n dagkamp aangebied vir skoolkinders van Coblens (100 km vanaf Okakarara in die reservaat). Hier is 40 kinders toegerus om self iemand na die Here te lei. Na die skolingsessie erken twee van hulle dat hulle self nie geloof-sekerheid het nie en dat hulle die Here as Verlosser wil aanneem. Groot was hulle vreugde toe hulle dit kon doen! Die aand is daar 'n diens by die skool gehou waar ongeveer 300 kinders teenwoordig was. ‘n Uitnodiging is gemaak vir mense om agterna met die spanlede te kom gesels as hulle die Here wil aanneem. Een van die spanlede is so oorweldig deur 'n groep kinders dat hy dit skaars kon hanteer. Die Here gebruik toe een van die twee kinders wat die middag tot bekering gekom het om die weg van verlossing aan die ander te verduidelik en hulle na die Here te lei. Wat 'n wonderlike ervaring om op dieselfde dag wat jy die Here aannneem, ander na die Hom te lei! Van die 383 persone wat die Here Jesus aangeneem het, is ongeveer 250 skoolkinders en 60 mans wat verhoorafwagtend was in die tronk. Hulle het baie voorbidding nodig om in die geloof te kan groei in omstandighede wat nie bevorderlik is vir geestelike groei nie.
Elke jaar vind ons dat hierdie trotse volk die Evangelie makliker aanvaar, maar 'n baie groot persentasie (veral die ouer mense) hou onwrikbaar vas aan hulle geloof in die Heilige Vuur met gepaardgaande voorouerverering. Talle gesprekke is met hierdie mense gevoer asook met sg. profete van die Afrika Onafhanklike Kerke, maar daar is 'n verharding gevind wat hulle blind en doof maak vir die Evangelie. Baie gebedsgroepe is geaktiveer om te bid vir die uitreik en daar is telkens ervaar dat die Heilige Gees gewerk en vrug voortgebring het.
Daar word beoog om gedurende Sept. 2001 'n opvolgbesoek aan Okakarara te bring en ook in April 2002.
Belangstellendes kan ds. Gawie van der Merwe kontak by (018) 294 8810.

    

Indeks     Index