Hier by die See...
  Here, as ek hier by die see staan, dan sien ek daarin ‘n weerspieëling van die liefde wat U vir elke mens het. Die menslike oog kan nie sy lengte, sy breedte of sy diepte bepaal nie. So is u liefde vir ons... Onmeetbaar.

Kyk ek na die groot vragskepe, die onwelriekende vistreilers, die luukse passasiersbote, en die kleinste roeibootjie wat op die see vaar, dan sien ek dat U nie diskrimineer nie. Nee, die grootste, vuilste verstoteling, die rykste magnaat tot die kleinste gelowige...u liefde is vir ALMAL.

Ek dink aan die verskillende seediere wat deur die see gevoed word en daarin skuil...
So is u liefde ook. U voed ons elke dag geestelik en liggaamlik en by U en in U kan ons skuil.

As ek dink aan al die kosbare skatte van vergane skepe wat deur die eeue op die seebodem vergader het en waarna skatte-jagters soek, weet ek so is U liefde vir die soekende siel...
Wanneer hy U liefde vind, is dit sy kosbaarste skat.
Kyk ek na die ewige, nimmereindigende beweging van die see, dan ervaar ek weer eens U liefde. Liefde wat ewig is...
nimmer-eindigend... soekend na die verlore siel!

Here, as ek luister na die dreuning van die golwe wat teen die rotse breek... dan is dit asof ek U stem hoor wat sê: "EK KOM WEER!"

"En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat my gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan in die poorte van die stad. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet." (Op. 22:12-14,17).

Indeks     Index