ROEI DIE HAKEA UIT
  Jare gelede was ons woonagtig in Humansdorp, Oos-Kaap. Een van die kleurryke karakters in ons gemeente aldaar se werk was om as inspekteur rond te gaan na die omliggende plase en met die boere se samewerking onkruid op hulle plase te bestry. So onthou ek dat Hakea deel hiervan uitgemaak het.
Wat is Hakea? Die HAT beskryf dit so: "Struik van die geslag Hakea waarvan enkele soorte wat hier te lande aangeplant is, verwilder het en tot onkruid verklaar is…" KENNIS Ensiklopedie sluit hierby aan: "Die Hakea-bosse, Australiese lede van die protea-familie, is uitheemse plante wat soos onkruid die berghange in dié streek (Kaapland) vervuil en inheemse plantegroei verdring." Dus, uitheemse plante van Australië afkomstig, wat die watervoorraad van die inheemse plante uitput en sodoende die inheemse plante verdring en ook uiteindelik vernietig.
Ek ry nou op ‘n dag in Miederpark, Potchefstroom, en let op die straatname van daardie onmiddellike omgewing - almal vernoem na inheemse boomsoorte: Geelhout, Olienhout, Moepel, Mopani, Kameeldoring, Kiepersol, Kiaat, en ewe skielik: Hakea! My eerste reaksie was: sou die stadsvaders of die naamgewers nie weet wat Hakea is nie? Of word dit slegs as nog 'n mooi inheemse boomsoort beskou? Die struik het mos tog sulke pragtige kleurryke blomme. Wie sou nie so 'n pragtige struik in sy tuin wil hê nie?
Skielik dink ek daaraan hoe maklik ons ook in ons geestelike tuin Hakea kan vertroetel as 'n pragtige inheemse struik met mooi blomme, terwyl ons hier te doen het met onkruid! Die Here wil tog hê ons tuin moet mooi en goed versorg wees, nie waar nie? Jes. 58:11(b) lui: "…en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is…" Ons lewe is 'n tuin vir God. En tog mislei die vyand ons soms om uitheemse onkruid te aanvaar as 'n pragtige inheemse struik met mooi blomme, want hoe meer ons die verkeerde ding doen en in ons lewe toelaat, hoe mooier word dit vir ons!
Hakea moet volgens die landswette uitgeroei word. Die boere word beboet wanneer hulle nie saamwerk om dit uit te roei nie. Volgens God se wette hoort "hakea" ook nie in ons lewenstuin nie! Ons mag dit nie vertroetel soos 'n ware inheemse boomsoort nie, want dit gaan ons natuurlike bome en struike (die karakter van God in ons) verdring en vernietig!
Kom ons raak ontslae van die onkruid of troetelsonde in ons lewe, en bied ons tuin vir Hom alleen om Sy inheemse karaktereienskappe, Sy inheemse plantegroei, in ons tuin te vestig!

Indeks     Index