GOD HET REEDS WERKERS IN PLEK
 
Mariëtte van Velden (018) 297 6921
‘n Mens raak daagliks meer bewus van die probleme en nood in die gemeenskap wat ons almal op die een of ander wyse raak. Rondom ons sien ons die groeiende armoede en die werklikheid van die vigspandemie dring al meer tot ons deur. Ons hoor van die seer van aborsie en satanistiese aktiwiteite. Baie van ons ken mense wat vasgevang is in verslawing: dwelms, pornografie of dobbelary. Mense in nood! As gelowiges, kan ons nie hierdie probleme en nood maar net ignoreer nie.
Tydens verskeie Moraliteitsaksievergaderings (met verteenwoordigers van verskeie kerke) verlede jaar, is bg. probleme belig. Daar is baie gepraat oor die rol van die Kerk en hoe ons betrokke moet raak. Waar moet ons begin? Hoe kry ons mense betrokke? Hoe word projekte gefinansier? Soms het dit gelyk asof die oormag van die nood, ons baie vrae en ons eie vol programme, ons maar liewer wil laat terugtrek.
Gelukkig is God in beheer! As Hy liefde en dringendheid in jou hart lê, kan ‘n mens moeilik jou oë en hart sluit vir die nood van mense. Soos Paulus, wil ‘n mens sê dat die liefde van Christus ons dring! So het God se liefde ook mense gedring en is daar reeds verskeie projekte in Potchefstroom wat sommige van hierdie uitdagings aanspreek. Ons wil graag enkele van hierdie projekte aan u bekendstel, sodat u nie slegs daarvoor kan bid nie, maar moontlik ook kan inskakel, of die aandag kan vestig op soortgelyke projekte waar Christene hande kan vat.

BEGELEIDING EN ONDERSTEUNING VAN VIGS- EN ANDER PASIëNTE
Pastoor Isaac Tsokolubane is voltyds in die Potchefstroomse Hospitaal werksaam. Sy werk sluit in berading, preke wat hy lewer en dan rus hy ook pasiënte en personeel toe met traktaatjies. Soms loop hy ‘n pad met pasiënte en hulle families, wanneer dit vir hulle moeilik is om die pasiënt se siekte te verwerk. Past.
Tsokolubane se salaris word deur ‘n groepie lidmate uit ‘n paar gemeentes betaal. Gedurende naweke word pasiënte besoek deur lidmate van ses gemeentes asook die Gideons. Tydens besoeke word preke op Mema-kassette voorgespeel, geestelike lektuur uitgedeel en persoonlike gesprekke gevoer. Indien u graag by hierdie aksie wil inskakel, kan u mev. Hettie Slabber by (018) 294 8075 skakel.

VIGSINLIGTING EN -VOORKOMING
‘n Werkgroep is saamgestel wat hom beywer vir Vigsvoorkoming en die verspreiding van inligting. Tydens ‘n vergadering op 14 Maart 2002 is gepoog om ‘n strategie vir gemeentes in Noordwes te bepaal. ‘n Aksieplan behels die volgende: Inligting rondom rolspelers in elke gebied; verspreiding van inligting; opleiding en blootstelling aan die vigsprobleem; gesindheidsver-andering by lidmate; leraars se rol; bewusmaking van behoeftes en probleme rondom vigs. Vir meer inligting kan Albert Horn geskakel word by (018) 297 7208.

CHRISTEN-MORALITEITSAKSIE
Besorgdheid oor gesinsverbrok-keling, armoede, werkloosheid en die impak van mediablootstelling op die Jeug van SA met spesifieke verwysing na die uitbeel-ding van seks in die media, is pun-te op die agenda van hierdie Aksie.
Gesinne is die boustene van ‘n volk. Seks word deur die media uitgebuit en beïnvloed ons jeug negatief. As hierdie klein kringetjies verbrokkel, verbrokkel die moraliteit van ‘n samelewing. Egskeidings is dikwels kits-oplossings wat verhoed kon word. Fanie Bergh beywer hom vir die herstel van huweliksverhoudings, huweliksverryking en welstand in die gesinne. Die Aksie het verlede jaar ’n "Weggee-dag" gereël en gepoog om op hierdie wyse betrokke te raak by armoede. Fanie Bergh kan gekontak word by (018) 294 3578.

ARMOEDE EN WERKLOOSHEID - WALK TALL Projek
Ons leef almal net een keer op hierdie aarde. Vernedering, hopeloosheid, moedeloosheid, hulpeloosheid en om verwerp te voel, is emosies wat arm mense wat ook nog werkloos is, elke dag ervaar. Kommunikeer ons nie dikwels aan hierdie mense dat hulle in die pad is nie?
Die gemeenskap moet verantwoordelikheid vir hierdie mense aanvaar. Gerhard Heydenrych is besig met ‘n omvattende projek om die arme en werklose te help om ‘n menswaardige lewe te kan voer en om ‘n bydrae in die samelewing te kan maak. Daar word gereeld aandag gegee aan die onmiddellike nood van die armes in die vorm van kospakkies. Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om in hierdie enorme taak Gerhard se hande te sterk.
‘n Ontwikkelingsproses is aan die gang om mense met kundigheid en spesiale vaardighede, wat by opheffing betrokke wil raak, te gebruik by opleidingsprogramme. Om hierdie doel te verwesenlik, word daar gekyk na die oprigting van gemeenskapopleidingsentrums. Gerhard Heydenrych kan gekontak word by 082 258 5619.

ABORSIE
Susan Humpel is werksaam by Potch Hospitaal waar sy drie pre-aborsie beraadsessies vir elke swanger vrou wat om aborsie aansoek doen, gee. Op hierdie wyse spaar sy meer lewetjies as wat verloor word met aborsie. Susan wys mense daarop dat aborsie niks kan regmaak nie. Die plek van die fetus verskuif net vanaf die baarmoeder na die gedagtewêreld en gewete en volg jou soos ‘n skaduwee vir die res van jou lewe. Aborsie het te make met die morele verval van ons lewe in SA. As Christene maak ons dikwels die fout dat ons die vrou wat ‘n aborsie laat uitvoer, veroordeel en ons rug op so ‘n persoon draai, i.p.v. na die mens agter die aborsie te kyk. Agter die sondigheid van aborsie, is die kruis van Jesus.
Susan wys jongmense op die gevare van voorhuwelikse seks: dit vernietig jou drome; veroorsaak verwarring in jou waardesisteem; ontlok skuldgevoelens en bekommernis, want seks en swangerskap is sinoniem; dit maak van jou ‘n gevangene.
Wanneer Susan waarsku, gee sy ook hoop vir diegene wat reeds oortree het, want Christus is ons Hoop. Susan kan geskakel word by (018) 297 8372, of by Potch Hospitaal, (018) 237 7011.

"GOEIE NUUS / GOOD NEWS"
In die vorige uitgawe van Goeie Nuus, het ons die getuienis van Japie en Huegene Venter, uitgewers van die koerant, gelees. Hulle het geantwoord op die roepstem na verspreiding van die goeie nuus wat soms ongesiens tussen ons gebeur.
Ons het bv. gelees van opheffingswerk in agtergeblewe gebiede, werkskepping deur entrepeneursontwikkeling en die uitdra van die Evangelie, ‘n artikel deur ds. Willem Louw. Ons bede is dat hierdie artikels nie net goeie nuus sal wees nie, maar ons lesers sal aanmoedig om in te skakel waar God reeds werk! Ons hoor graag van mense wat reeds besig is met die aanspreek van morele kwessies en die nood van mense.

Indeks     Index