DIE GOEIE HERDER!
  "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie nie by die deur van die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.
Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape.
Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.
En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken" (Joh. 10:1-4).
Wat beteken dit dat Jesus Homself "die deur" noem? Sir George Adam Smith, ‘n beroemde Ou-Testamentikus, vertel dat hy eenmaal op reis was in die Nabye Ooste toe hy op ‘n skaapwagter en sy trop afkom. Hy het met die skaapwagter begin gesels en dié het hom die skaapkraal gewys.
Dit het bestaan uit vier mure en ‘n opening. Sir George het gevra of dit is waar die skape snags bly. "Ja, en as hulle daar is, is hulle heeltemal veilig." "Maar daar is dan nie ‘n hek nie," sê-vra Sir George. "Ek is die hek," het die skaapwagter verduidelik. Hy was nie ‘n Christen nie en het nie die beeldspraak van die Nuwe Testament geken nie; hy het uit die oogpunt van ‘n Arabiese skaapwagter gepraat. Daarom het Sir George hom gevra wat hy bedoel. "Wanneer dit saans donker raak en al die skape is binne, gaan lê ek in die opening. Geen skaap kan uitgaan sonder dat hy oor my moet klim nie, en geen wolf kom in sonder dat hy oor my moet klim nie. Ek is die hek."
[Uit: Stories vir die Lewe Omnibus deur Piet Naudé Lux Verbi.BM 2002].
Maak seker dat JESUS JOU "DEUR" IS, die Een wat jou beskerm teen die vyand en toegang verleen tot die ewige lewe saam met God!

Indeks     Index