KIES JESUS!
 

Op twintigjarige ouderdom het ek ‘n normale werk gehad. Ek het toe besluit om my ghitaar weg te bêre, want my familie het geweet hoe ek sing. Daardie Desember droom ek van ‘n helder waterstroom en ‘n lowergroen boom. Ek droom ek staan voor die boom en kyk af na my hande en sê: "Here, vir U sal ek werk." Ek kyk af na my voete en sê: "Here, vir U sal ek loop." Die volle betekenis hiervan sou later vir my duidelik word...
Ek het my pa op ‘n jong ouderdom verloor en as broodwinner was dit ‘n moeilike keuse om my vaste werk prys te gee en ‘n loop-baan as sangeres te volg, want daar was finansiële verpligtinge. Daar was nie geld vir klanktoerusting nie, maar ‘n kennis het gereël dat ek dit binne 12 maande kon afbetaal.
Met geen vaste inkomste het ek begin sing. Die Vader het my so geseën dat ek my skuld binne drie maande vereffen het. Selfs tydens my kommersiële sang het die Here reeds begin werk. Talle kere het mense na my gekom, pille vir my gewys en gesê: "Ek was op pad om ‘n einde aan my lewe te maak, maar toe ek jou hoor sing, het iets vir my gesê: ‘Moenie’." Ook jongmense het hulle moue opgetrek en daar was snymerke op hulle arms. Een spesifieke meisie het gesê dat sy op pad was met haar motor om weer te probeer selfmoord pleeg, maar ‘n liedjie van my het oor die radio gespeel en iets het vir haar gesê: ‘Moenie’. Hierdeur het ek beleef dat God enige plek, musiek en enige mens kan gebruik om Sy werk te doen.
In die wêreld waarin ons leef, is een van die grootste aanslae sekerlik depressie. Dinge wat jy doen en wat gebeur, maak jou depressief. ‘n Mens is ‘n snaakse ding. Ons vra God om ons te vergewe. Hy doen dit, maar ons kan nie vergeet nie. Wanneer jy jouself nie kan vergewe en alles vergeet nie, laat jy ‘n gaping vir die vyand om jou voortdurend te herinner van die verlede, want dan begin jy twyfel aan God se vergifnis. Die vraag is: Gaan ‘n mens toelaat dat hy jou aan bande lê of gaan jy ‘n nuwe dag saam met God begin wat Sy Seun as losprys vir jou gegee het! Dan is dit tyd om jouself te vergewe.
Om ‘n geestelike CD te maak, was nog altyd my harts-begeerte. Omdat ek onder kontrak was by platemaat-skappye, het hulle altyd gesê ‘Nie nou nie.’
Januarie 2003 het aangebreek. Ek het my lewe opnuut volkome aan God oorgegee. Ek en Louis, my man, het ons eie platemaatskappy gestig ("GIG" Musiek) wat staan vir ‘God is Goed’. Die Vader het my geseën en nege van die snitte op die CD ‘Nader al Nader’ het uit my pen gevloei. Die persoon wat die verwerkings gedoen het, wou geen geld ontvang nie.
Daar word gesê dat ‘n kunstenaar ‘n geestelike CD opneem as hy dit nie in die kommersiële wêreld kan maak nie. Hulle kan maar sê wat hulle wil, ek het sukses behaal. Tog glo ek die grootste sukses is om mense vir Jesus te wen. Louis en ek het baie gebid oor die finansiële sy van ons bediening en besluit dat ons vir optredes in kerke waar nie kaartjies verkoop word nie, slegs ‘n offerande sal aanvaar. Op hierdie manier weerhou ons nie die Woord van mense wat dit nie kan bekostig nie. Ons bou ook so ons eie geloof, want die Vader weet wat ons nodig het.
My gebed is dat elke knie voor ons hemelse Vader sal buig en dat die fokus nie op my sal wees nie, maar op die Een aan Wie dit toekom - Jesus Christus wat ons losgekoop het!
Nou weet ek wat die droom beteken het en dat God ‘n plan met alles in jou lewe het. Vrede, seën en liefde vir u almal.

Louis en Freda woon nou
in Potchefstroom en kan
gekontak word vir optredes
by: 082 471 3433

Indeks     Index