GEORGE MUELLER SE GELOOFSLEWE
  George Mueller was gedurende die negentiende eeu 'n predikant in Engeland. Hy was bekommerd oor die toenemende moedeloosheid van die kinders van die Here. Hulle het God nie meer vir iets nuuts vertrou nie. Hulle het nie verwag dat God hulle gebede sou beantwoord nie. Hulle het so min geloof oorgehad.
Die Here het George gelei om te begin bid. Hy het gebid dat die Here deur hom 'n werk sou doen wat duidelik net God se werk kon wees. Hy wou hê die mense moes erken dat God getrou is en gebede beantwoord. Toe lees hy Ps. 81:11b: "Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee." Die Here het hom gelei om 'n lewe van geloof te leef wat 'n uitstaande getuienis geword het vir almal wat dit gehoor het.
As George voel die Here lei hom om iets te doen, het hy begin bid dat die Here alles sou voorsien wat nodig was, sonder om ander mense daarvan te vertel. Hy wou seker maak dat almal sou weet dat dit God is wat as antwoord op gebed in al sy behoeftes voorsien. George het gedurende sy bediening in Bristol die Scripture Knowledge Institute vir Bybelverspreiding en -onderrig begin. Hy het 'n weeshuis begin. God het George Mueller gebruik om in sy leeftyd vier weeshuise te stig wat 2 000 kinders op 'n keer versorg het. Meer as 10 000 kinders is altesaam in hierdie weeshuise versorg. Hy het meer as R48 miljoen uitgedeel wat hy as antwoord op gebed ontvang het. Toe hy op 93 gesterf het, is die totale waarde van sy aardse besittings op R4 800 beraam.
Hoekom wil ons nie leer dat dit die beste is om dinge op God se manier te doen nie? Ons planne veroorsaak soms groot skade in ons gemeentes. Ons stel planne in werking sodat ons soveel vir onsself daaruit kan kry as wat ons kan. JESUS CHRISTUS is die Hoof van sy Liggaam, die Kerk. Ag, dat ons almal maar die verskil kan ervaar wanneer God die Hoof van die Liggaam is! Hy sal binne ses maande meer doen met en deur mense wat aan Hom toegewy is as wat ons in sestig jaar sonder Hom kan regkry!
[Uit: Beleef God! - Henry T Blackaby en Claude V King, Protea Uitgewers, Lux Verbi.BM 1999]

          Indeks