HOE SINVOL IS MY LEWE WERKLIK?
  Oomblikke verhef tot ewighede
Ewighede verspil in oomblikke
Genadiglik die mens se reg
Vervaag elk' oomblik
En glip net weg…
Tyd is voorwaar kosbaar. Dit is die substansie van LEWE!
Tog kla so baie van ons die tyd om oor wêreldgebeure, oor die politiek, oor hoëprofiel mense of sommer net die gewones rondom ons, oor die lewensduurte, oor die son wat nie skyn nie of té warm skyn, weliswaar oor ernstige sake, maar ook oor baie onbenullighede. En met soveel negatiewe gedagtes vergeet ons om sinvol te lewe…
Kom ons dink aan die taai doringboom wat nie vra om gehelp te word om aan die lewe te bly nie. Daardie mooi boom wat ondanks die droë sloot aanhou groei en onbaatsugtig skaduwee gee vir die vee wat in die hitte van die somerdag hygend soek na koelte… Hierdie gee-boom dien sonder eis of voorwaarde en word vir my as mens simbool van die plek van lewe en rus waar my moeë, afgematte lewensmaat, kinders en mede-reisigers koelte kan vind as die hitte van die dag verskroei. Dit word 'n oase waar rus en krag gevind kan word voordat die lewensreis hervat moet word…
Só kan ouers die vasmeerplek vir hulle kinders wees sodat hulle nie stukkies wegspoeldryfhout word sonder die ouerlike, liefdevolle gemeensaamheid en leiding nie. Só help lewensmaats mekaar tot bo-op die kruin…
En soos die eerste lentebloeisels met hul ligroos spatseltjies die grouheid van die winterlug verbreek, is ons hulpverlening aan mekaar spatsels ligkolle wat die vaalheid van menslike probleme verbreek, vervorm en verteder. Tog kan ons net met deernis en hulpbetoon vir mekaar dáár wees as ons daagliks ons eie kruik vol maak aan die voete van ons Meester. Dan, en dan alleen sal ons in staat wees om waarlik te lewe en só te lewe dat daardie kruik oorloop en ook die dorstiges rondom ons les!
{Huegene Venter)

          Indeks