WAARHEEN IS ONS OP PAD?
  'n Joernalis het eenkeer vir die evangelis Billy Sunday gevra waar sy passie vandaan kom om so onverpoosd sy evangelisasiewerk te doen.
Sunday het na die venster gestap en op die straat afgekyk. Honderde mense het soos miere in die strate en op die sypaadjies krioel.
"Waarheen gaan daardie mense?" vra Sunday toe op sy beurt aan die joernalis. "Ek weet nie. Ek ken hulle mos nie," antwoord die joernalis toe.
"Wel, ek ook nie en ek weet ook nie waarheen hulle gaan nie," het Sunday geantwoord. "Dít is presies wat my laat wakker lê en my motiveer."
In ons wêreld beskou baie mense dit as oudmodies om oor die hemel en die hel te praat. "Bangmaakstories" noem sommige dit.
"Arrogante geestelike meerderwaardigheid," is ander se aanklag. Die vraag bly egter staan: Is daar 'n hel en het God dit so beskik dat ons enige bydrae kan lewer om 'n pad wat besig is om vir sommige skeef te loop, om te keer?
As ek na die Bybel kyk, meen ek beslis so. Wie net een keer in sy of haar lewe op genadige wyse betrokke was by die ommekeer in iemand se lewe, sal verstaan waarvan ek praat.
Teks vir die dag: Esegiël 3:18: "Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie ... dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood."
Gedagte vir die dag: Die werklikheid van die hel mag nooit die diepste motivering vir ons getuienis wees nie, maar dit kan 'n dringendheid bring.
Aanhaling vir die dag: Ons is 'n geslag wat baie meer oor evangelisasie praat en skryf, as wat ons dit werklik doen.
- David Watson
(Uit: Man met Balans deur Braam Hanekom)

Indeks     Index