GOD STUIT 'N DODELIKE KOEËL!
  Dr. Hennie Barnard (011) 393 2392 of (011) 393 3120

Een dag wat ingebrand is in my geheue, is Donderdag 2 September 2004. As 'n brose hoofslagaar gebruik word om die venyn van 'n 3.8-Special-koeël te stuit, kan dit nét God wees wat 'n mens se lewe op só 'n wonderbaarlike wyse red!
Ek het voor 'n huis in Boksburg in die motor vir my vrou gewag wat binne-in die huis besig was om saam met iemand te bid. Drie mans het nadergestap. Die kapers het dreigend vir my geskreeu om uit te klim. Die vrouens in die huis het die lawaai gehoor, besef wat buite gebeur, en onmiddellik op hul aangesigte voor God gaan lê en tot Hom geroep om hulp en beskerming.
Vrede wat alle verstand te bowe gaan, het van my besit geneem en ek het die kapers in die Naam van Jesus beveel om my met rus te laat. Hierna het die man met die rewolwer beserk geraak en die deur van my motor met die kolf van die rewolwer begin slaan. Toe het hy die ruit begin kap. Na vyf houe het die ruit gebreek. Toe het hierdie verwarde jong man 'n belangrike stap geneem - hy het 'n skoot op 'n afstand van 1,5 meter afgevuur en sodoende sy status van potensiële rower na potensiële moordenaar verander. Maar hierdie skoot het God se Hand in beweging gebring!
Daar is onmiddelik drie gebedskettings geaktiveer en binne minute het
honderde Christene vir my maar ook vir die redding van die siele van hierdie bende gebid.
Die koeël het my sleutelbeen getref en boontoe weggeskram.
Onder die sleutelbeen is daar 'n bundel senuwees en bloedvate wat die arm bedien.
Die koeël is sowat 12 cm verder tot stilstand gebring en het die hoofslagaar
soos 'n tent se middelpaal weggedu sonder om dit te riptuur, omdat God sy Hand tussen die hoofslagaar en die loodpunt ingesteek en tot stilstand geroep het! ('n Kenner van wapens het gesê 'n 3.8- Special- koeëlpunt penetreer normaalweg deur etlike telefoongidse. Daarom sal dit definitief by 'n mens se liggaam uitgaan a.g.v. die geweldige energiekrag daarvan. Maar dis asof God besluit het: "tot hier, en nie verder nie."
Vir die volgende 36 uur was daar 'n toeloop van Christene na die hospitaal en
daar is gebid in ongevalle, in die teater, en in die saal waar ek gelê het.
Die skoot is Donderdagaand afgevuur. Saterdagoggend is ek ontslaan.
Die wond is steeds relatief pynloos - vir die eerste vier weke het ek nooit
nodig gehad om pynmedikasie te gebruik nie.

Medici kon nie anders as om God se Hand in die gebeure te erken nie. Dr. Louis Oelofse, 'n ortopediese chirurg, verklaar onomwonde dat dit 'n wonderwerk is dat hierdie koeël nie die hoofslagaar deurboor het wat die bloed na die brein vervoer nie, want selfs die sleutelbeen was heeltemal verbrokkel! Hy het later oor sy bevindinge op Radio Kansel getuig. Ook Dr. Gerhard van Aswegen wat my in die hospitaal kom besoek het, het die daaropvolgende Sondagoggend in sy kerk opgestaan om oor die krag van gebed te getuig.
Die kapers het gekom om 'n Mercedes te steel. Hulle is weg sonder een, maar het in stede daarvan honderde gebede vir hul redding gekry. Ek het voor hierdie insident vir God gesmeek dat ek Sy hand in beweging mag sien. Dit het hy duidelik vir my gewys, en ek dank Hom hiervoor. Ek is oortuig daarvan dat ek op die regte tyd, op die regte plek was..."

          Indeks