LANGAFSTAND KRAG
God kan daar wees, wanneer jy nie kan nie
  In Joh. 4:43-54 lees ons dat Jesus die seun van 'n koninklike beampte genees het. Die pasiënt was in Kapérnaüm, maar die Groot Geneesheer, Jesus Christus was ongeveer 32 km daarvandaan in Kana. Die genesing was 'n langafstand wonderwerk! Jesus het langafstand krag, 30 kilometer of 30 000 kilometer. Daar is geen plek vir God te ver om te gaan nie. Die term: "die uitgestrekte arm van die Here", word herhaaldelik in die Bybel gebruik (vgl. Deut. 26:8, Jer. 27:5). God se arm kan strek van Kana na Kapérnaüm, van Kaapstad na Kaïro, dit kan strek tot waar u dit ook al wil hê. Gebed
  Daarom moet ons vir sendelinge in ander lande bid. Vir familielede en vriende in ander provinsies, vir ons dierbares wat ver reis. God se langafstand krag vou Sy arms om die hele wêreld. Die koninklike beampte se versoek was dat Jesus onverwyld na sy huis moes kom. Hy het egter aan die koninklike beampte die versekering gegee dat hy by sy tuiskoms sy seun genees sou aantref.
Hierdie hoogwaardigheidsbekleër het Jesus se woord aanvaar en na sy huis vertrek. Groot was sy vreugde toe sy diensknegte hom op die weg ontmoet met die goeie nuus dat sy kind gesond is! Hulle was nie bewus van die gesprek tussen hom en Jesus wat ons in die Johannes-evangelie vind nie. By verdere navraag rondom die tyd van genesing, ontdek hy dat dit plaasgevind het op die presiese uur toe Jesus gesê het: "Jou seun lewe".
Onafhanklike en onpartydige getuies het bevestig dat terwyl hierdie koninklike beampte vir Jesus hulp gaan vra het, die koors op daardie oomblik besig was om te breek. Terwyl hierdie bekommerde vader intersessie gedoen het, was die stryd om sy seun se lewe gewonne. Dit is langafstand krag! Jou gebede kan enige plek in die wereld 'n uitwerking hê! Dit is tyd om hierdie krag te benut!

Indeks     Index