WAT BEHELS
DIE EWIGE LEWE?

 
Pastoor Johann CD Botha,
Christian Fellowship, Potchefstroom, (018) 293 0239


Wat beteken "ewige lewe"? Hoe kan ek dit deelagtig word? Jesus gee aan ons die antwoord in Joh. 17:3: "En dit is die ewige lewe; dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is." Uit hierdie teksvers is dit duidelik dat die ewige lewe gebaseer is op ‘n mens se verhouding met God die Vader en die feit dat die Vader Jesus gestuur het om die bedorwe en verbrokkelde ver-houding tussen die mens en Homself te herstel. In Lev. 17:11 lees ons dat God Israel toegelaat het om die bloed (lewe) van offerdiere te offer om hul sondes te bedek en so versoening te bewerkstellig in hul verhouding met Hom; sodat hulle tot Hom kon nader. Matt. 27:50-51(a) wys daarop dat Jesus, die Lam van God en volmaakte Offer, Sy lewe (bloed) vir die mens geoffer het. Sy bloed het egter nie net ons sondes bedek nie, maar geheel en al weggewas en sodoende versoening bewerkstellig tussen die mens en God die Vader."Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur" en die skeiding tussen die mens en die Vader verwyder. Die aller-heiligste plek het oopgegaan sodat die mens in die teenwoordigheid van God die Vader kan ingaan en vryelik tot Hom kan nader. Heb. 10:19: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom." Maar is dit vir alle mense beskore? Ja, vir almal wat die offer van Jesus aanvaar en in ‘n verbondsverhouding met Jesus Christus tree!
‘n Verbondsverhouding werk soos ‘n huwelik "binne gemeenskap van goedere", waar alle besittings, skuld, ens. die gemeenskaplike eiendom van die twee partye word. Deur ‘n verbondsverhouding met Jesus, is dit die enigste wyse waarop die mens die offer wat Jesus gebring het, deelagtig kan word en waarbinne Jesus dus mede-aanspreeklikheid vir die mens se sondeskuld kan aanvaar en dit namens Sy verbondsgenoot kan betaal.
Sodra die mens dus in ‘n verbondsverhouding met Jesus tree, was Sy bloed jou sondes weg en bring dit restourasie of versoening tussen mens en God die Vader!

Geborg deur TG TRADERS

Indeks     Index