ONTVANG WAT JY
NIE VERDIEN NIE

  Dis seker een van die ysingwekkendste gevoelens op aarde. Jy ry in jou motor – ’n oop snelweg, helder toestande vir nagbestuur, opgewek, boeiende musiek sketter uit al vier luidsprekers, al agt silinders stu jou voort. Jy skep behae daarin.
Meteens in jou truspieël - die rooi lig flits daar! Daardie vreesaanjaende, gebiedende rooi lig! Jy kan nie die res van die patrolliemotor sien nie; jy kan nog nie die verkeersman sien nie. Net die gloeiende rooi lig, al die gesag van daardie rooi lig. En jy weet jy’s vas. Man, jy’t 140 km gedoen, dalk 150. Jy was bloot net nie besig om kop te gebruik nie.
Dit moker jou reg in die maag. Dis sowaar ’n fisieke gevoel, ’n siek gevoel.
Verkeersman
  Dit gaan jou dalk R500 of meer uit die sak jaag. Daardie rooi lig in jou spieël beteken uitgerekte hartseer.
Die verkeersman daag op. Hy's baie hoflik, baie professioneel. Hy bekyk jou rybewys en registrasie. Die oomblikke rek terwyl jy bloot... wag.
Dan kyk hy skielik na jou en sê: "Ek gaan u nie hierdie keer 'n kaartjie gee nie. Maar ry asseblief stadiger, reg so?"
Jy's uit die verknorsing! Geen kaartjie! Geen leviete wat jou voorgelees word nie. Geen straf of assuransie-implikasies nie. Jy's vergewe!
Wat jy daar beleef het, is genade. Kom ons staan 'n oomblik stil by die woord genade. Wat is genade eintlik? Hoekom het hierdie Bybelse begrip so 'n belangrike pilaar in die Christelike geloof geword?
Daar is meer as een betekenis van die woord genade. Die een wat die wêreld verander is hierdie een: "Onverdiende Goddelike hulp aan die mens gegee." Die meeste Christelike predikers, soos ek ook, sê eenvoudig: "Genade is onverdiende guns." Om iets wonderliks van God te ontvang wat ons nie verdien het nie!
Verlossing – waarmee ons bedoel die hemel en ewige lewe saam met Jesus en al God se kinders – is iets wat ons nie verdien nie. Nie een bewoner van hierdie planeet verdien om te lewe nie. Daar is nie een lid van die menseras wat nie 'n doodsvonnis oor sy of haar kop het nie.
'n Dogtertjie word gevra wat genade is. "Oom," sê sy, "dit is om alles vir niks te kry." Nie 'n slegte definisie nie. Ek sou selfs verder gaan: dit is iemand wat alles verdien wat sleg is en alles ontvang wat goed is! Dit sou selfs nader aan die waarheid wees.
Romeine 3 bevat die mees klassieke slegte nuus/goeie nuus uitspraak ooit. Vers 23 verklaar: "Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God."
Daar is geen uitsondering op daardie reël nie. Kortom, ons is almal agter die stuur van daardie motor op die snelweg, en die rooi lig skyn deur die agtervenster. Ons staan skuldig. Dis die slegte nuus!
Dank die Here daar is 'n vers 24! Luister na die goeie nuus: "... en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is."
'n Mens kan nooit oor genade skryf sonder om ook na Efésiërs 2:8, 9 te verwys nie: "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie."
Paulus deel ons mee dat dit genade is wat ons red. God se genade, Sy onverdiende guns, het die mag om te red.
Verlossing is 'n gawe van God. Ons kan nie daarvoor werk nie; dit nie koop nie; nie daarvoor kwalifiseer nie; dit nie verdien nie! En definitief nie spog oor die feit dat ons dit het nie!
Weet jy, as daardie verkeersman se flits in my oë skyn en sy rooi lig deur my venster blits, is my beste reaksie om net "dankie" te sê. Dis nie 'n baie verstandige tyd om groot te praat of die toeter te druk nie. 'n Bedeesde woord van dankie is werklik die enigste geskikte reaksie.
Dis ook waar met betrekking tot die Here. "Dankie, Here, vir die gawe van verstommende genade!"
E Lonnie Melashenko

Indeks     Index