GEHOORSAAMHEID BRING SEËN
  Ou Sêm was 'n kleurvolle karakter in my ouers se diens op die plaas waar ek grootgeword het. As klein seuntjie onthou ek hoe hy sy verweerde skoene met draad vasgemaak het wanneer dit darem te stukkend geraak het. Aan die kant van daardie stukkende skoen het sy voet soms uitgesteek. Dan het die dorings hom gesteek juís wanneer hy regtig wou vastrap om harde werk te verrig. Dit het hom gestrem in sy werk.
Is dit nie hoe dit soms met ons ook gaan nie? Ons loop in ons skoene van gehoorsaamheid aan God, maar dan trap ons tog so dan en wan buite daardie skoen wanneer ons ons eie pad loop, en nie God se wil soek in elke opsig nie. Dit is dán wanneer die dorings ons steek. En wanneer die dorings so seer steek, wéét ons: ons het oortree, en ons moet na Hom terugkeer en na Sy wil soek in ons lewe. Daar is tye dat hierdie "uit-die-skoen-trap" so lank voortgaan, dat dit naderhand 'n lewenswyse word en dan kan ons nie verstaan waarom alles so verkeerd loop nie.
In hierdie tye van "verkeerd-trap" is ons dikwels soos bedelaars wat met ons bedelhouertjies voor God kom staan en skud vir 'n aalmoes. En ons hou aan met skud en skud… Ons behoefte is só groot! Dit terwyl God wil hê ons moet onder die wolk van sy gietende seën kom staan. Hy wil hê ons moet onder die oop sluise van die hemel kom staan sodat Hy oorvloedige seën op ons kan uitgiet - meer as wat ons kan bevat! Hy wil nie net voorsien vir kos op ons tafel, 'n dak oor ons kop of klere en skoene nie. Hy wil báie méér gee as ons fisiese behoeftes. Hy wil sóveel geestelike seëninge op ons uitgiet!
So het dit ook gebeur toe Petrus en Johannes opgegaan het na die tempel op die uur van gebed: By die Tempelpoort van die Skone het 'n bedelaar gesit. Hy het na Petrus en Johannes gekyk met die verwagting dat hulle vir hom 'n aalmoes sou gee. Sy verwagting het opgevlam toe Petrus vir hom sê: "Kyk na ons!" Petrus het vervolg: "Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!" (Hand. 3:6). Onmiddellik het sy voete sterk geword. Hy het opgespring, gestaan, rondgeloop, die tempel saam met hulle ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. Wat het gebeur? Hy het 'n 'n aalmoes verwag, maar ontvang baie méér as dit: Nou kon hy self gaan werk (hy was verlam van geboorte af). Hy het sy menswaardigheid teruggekry. Hy kon nou sy bedelaarsbestaan vaarwel toeroep. Hy kon nou selfonderhoudend wees en vir hom en sy gesin sorg. Nooit hoef hy weer in die oë van ander te kyk om brood op sy tafel nie. So oorvloedig wil God vir ons almal gee. Maar daarvoor moet ons tot algehele gehoorsaamheid aan Hom leef. Ongehoorsaamheid beteken daar is fout met ons gehoor of die wyse waarop ons God se wil hoor en uitvoer. Laat ons pro-aktief optree en die oorproppe uithaal!
Toe my seun klein was, moes ons hom na die dokter neem toe dit voorgekom het dat hy moontlik 'n gehoorgebrek gehad het. Daar was egter niks verkeerd nie, behalwe dat die ore geblokkeer was met oorwas. Nadat die dokter die ore "uitgespuit" het, kon hy weer baie goed hoor! Ons moet wegkom van alles wat ons gehoorgestremd kan maak, sodat ons God se stem kan hoor. Vermy geraasbesoedeling! Dit veroorsaak dat ons God se stem nie duidelik kan hoor nie. God seën gehoorsame kinders. Spr. 1:33: "…maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil."

Indeks     Index