ATOOMBOM, HIROSHIMA EN GOD
  Op 6 Aug. 1945 om 08:15 het die Amerikaners die eerste atoombom, wat hulle "Little Boy" genoem het, op Hiroshima laat val. Dit was 'n uraanbom wat nooit vantevore getoets is nie. Na beraming het tussen 200 000 en 300 000 mense onmiddellik gesterf. Later sou nog meer sterf a.g.v. beserings en radioaktiwiteit. Op 9 Aug. 1945 om 11:02 het die tweede atoombom, wat hulle "Fat Man" genoem het, Nagasaki getref. Hierdie een was 'n plutoniumbom wat reeds voorheen getoets is. Die Noorde van die stad is vernietig en nog 70 000 mense het onmiddellik gesterf. Iemand het gesê: " When the atomic bomb fell, day turned to night and people became ghosts." 'n Ander bron se weergawe is: "Whereas the fire-bombing of Tokyo produced a death rate of about 100,000 fatalities among one million casualties (10%), the two atomic bombs produced a death rate of over 50% with the inclusion of deaths due to radiation. By 1950 nearly 350,000 Japanese had died from the effects of 'Little Boy' and 'Fat Man'." Hierdie twee bomme het Amerika gedurende die oorlogsjare $2 biljoen gekos om te vervaardig. Die temperatuur waarteen die eerste bom ontplof het, was meer as een miljoen grade Celsius! Geen wonder dat een van die wetenskaplikes uitgeroep het nie: "My God, we have created hell!"
Die menslike trauma kan nie beskryf word nie. Daar was die "swart reën" wat radioaktiewe afvalmateriaal oor groot dele van Japan gestrooi het. Duisende mense het doodgebrand vanweë die intense hitte. Duisende het blind geword van die intense lig. Omtrent al die mense wat in 'n radius van 1 kilometer van die ontploffing was, het gesterf. Brandwonde is opgedoen tot ongeveer drie en 'n half kilometer ver van die ontploffing. Baie duisende mense het gesterf vanweë die "vuurstorms".
Was dit God se straf omdat die Japanese die Christene sedert 1614 vervolg het? (Daar het met een slagting 30 000 Christene gesterf by die Hara Kasteel in Shimabara gedurende 1638). Of hoe het God hierdie tragedie van die atoomoorlog gebruik? Soos met 11 September 2001 het in Japan ook mooi verhale van God se ingrype na vore gekom. WANT GOD WAS ÓÓK DÁÁR!
'n Jongdame van Japan, Kiyoko Tanimoto, het uitgeroep: "Ek haat hom!" "Ek haat hom!" Sy kon nie die vlieënier vergewe wat die bom gewerp het nie. Sy was self byna lewend begrawe en het gesien hoe die vlamme nader en nader kom voordat die reddingswerkers haar uit die puin bevry het. Sy het ook die pyn en lyding van haar eie mense aanskou. Later het sy 'n byeenkoms bygewoon waar hierdie vlieënier ook 'n spreker was. Hy het getuig hoe hulle oor die stad gevlieg het en nadat die bom gewerp is, het hy uitgeroep: "O God, wat het ek gedoen!" Sy het gesien dat hy byna nie kon praat vanweë die trane nie en dat hy waarlik berou gehad het. Dit is tóé dat sy kon bid om vergifnis. Toe sy haar hart vir Jesus oopgemaak het, het sy vrede gevind. Die haat het verdwyn!
'n Jongman, Norio Maekawa, het op 17 by die Japanse vloot aangesluit. Hy moes streng opleiding ondergaan en was geskok toe hy kennis maak met ‘n nuwe geheime wapen. Dit was 'n torpedo waarin 'n man gedra is wat dit akkuraat op die vyandelike skyf kon afstuur. Tagtig jongmanne is vir hierdie selfmoordsendings gekies. Hulle is deur die plofkoppe van die torpedo's uitmekaargeskiet, terwyl hulle dit akkuraat op die vyandelike teiken afgestuur het. Gereeld het hy so 'n jongman hoor roep: "Ek wil nie sterf nie! Ek wil nie sterf nie!" Uiteindelik was dit sy beste vriend se beurt, en uiteindelik sou sy beurt aanbreek… Drie dae voordat dit sy beurt sou wees, het die bom op Hiroshima geval, daarna op Nagasaki, en het hy aan die dood ontkom. Dit was 1945. In die winter van 1948 het God egter 'n houvas op sy lewe gekry. By 'n straatdiens het hy gehoor hoe mense van God getuig. Toe hy die eerste keer in sy lewe van die liefde van God hoor, het hy met trane van berou sy sonde bely en Jesus aangeneem as Persoonlike Verlosser. Hy het vrede gevind! Hy het betrokke geraak by 'n Christelike Radio-Uitsaaidiens in Japan en het baie duisende mense vir Jesus Christus bereik. Duisende het in hospitale en tronke na die uitsendings geluister en tot bekering gekom. Derduisende briewe het ingestroom.
Waar is God oral werksaam? Op alle plekke, te alle tye, maar veral ook in krisistye, en dan veral met die individu wat hom tot God keer. Hy soek mense wie se harte onverdeeld op Hom gerig is! Hy maak bemoeienis met mense wat Hom soek en openbaar Hom aan diesulkes. Verkeer jy in nood? Wend jou tot Jesus en gee Hom 'n kans in jou lewe!

Indeks     Index