DIE NAG TOE GOD DIE
LIGTE AFGESKAKEL HET
  Ons sien nog vir oulaas ons motor na. In 'n geheime kompartement het ons 200 Bybels versteek. Die kompartement was so geleë dat dit nie maklik opgemerk sou kon word nie. Soos gewoonlik het ons almal om die motor gestaan en bid. 'n Nuwe koerier het my op hierdie rit begelei en ons het gebid vir God se beskerming op hierdie gevaarlike reis. Ons het ook gebid vir 'n veilige terugreis en dat "Elias", die nuwe koerier, God se beskermende Hand sou ervaar. Hierdie sou 'n besonder betekenisvolle reis wees, want "Elias" was 'n jong Christen wat graag wou leer wat die werk van 'n Bybelkoerier behels. Ek was bly om hom by my te kon hê, want ek kon hom baie leer uit my jarelange ondervinding.
Ek het agtergekom dat "Elias" effens senuweeagtig was. Dit was te verstane vir iemand wat op sy eerste rit oor kommunistiese grense sou gaan, boonop nog in besit van onwettige, verbode Bybels! Ek het hom verseker dat God saam met ons was en dat Hy sou sorg dat ons weer veilig terugkeer.
Eindelik was ons op pad en het ons die eerste grenspos sonder teëspoed oorgesteek. Ons het die volgende dag 'n paar aflewerings gemaak en aangesien ons nog baie ver moes ry, het ons gou weer spore gemaak.
Ons moes nóg 'n grenspos oorsteek - 'n baie gevaarlike een met uiters streng sekuriteitsmaatreëls - na 'n tweede land. Die volgende dag het ons op 'n kronkelpad gery en om 'n skerp draai het dit gebeur! Die voorwiel aan die regterkant het gebars! Die motor het gevaarlik heen en weer geslinger terwyl ek met die stuurwiel gesukkel het om beheer oor die motor te behou. Dit het gevoel asof ons op 'n mallemeule ry! Die volgende oomblik het ons 'n sloot getref en met 'n verskriklike slag het ons tweemaal heeltemal omgerol! Ons het in 'n geskokte toestand in stilte bly sit terwyl die stof weggewaai het...
Ons was baie besorg oor mekaar, maar nie een van ons het iets oorgekom nie. Ons het daar in die stof langs mekaar neergekniel en God gedank vir Sy beskerming. Kort daarna het 'n vriendelike vragmotorbestuurder stilgehou en ons gehelp om die motor weer in die pad te kry. Die motor kon darem nog ry, maar tot ons ontsteltenis het ons opgemerk dat die geheime kompartement heeltemal oopgeskeur het en die waardevolle Bybels was nou sigbaar!
Broer "Elias" was paniekerig. Hy het geweet dat ons nie kon teruggaan nie, aangesien ons alreeds by die eerste kommunistiese grenspos geregistreer het. Volgens kommunistiese wetgewing moes ons ons reis voltooi soos beplan. Maar hoe kon ons nou voortgaan met die blootgestelde kompartement en die gevaarlike grenspos reg voor ons?
Ek was ook baie bekommerd, maar het al baie wonderwerke beleef en het dus tog vertroue in God se beskermingsvermoê gehad. Ek het broer "Elias" van die wonderwerke vertel. Ons het die situasie opgesom. Ons kon die Bybels weggooi en in veiligheid voortgaan met ons reis, maar wat van die honderde gelowiges wat so gretig gesit en wag het op God se Woord? Hoe kon ons met le¨e hande by hulle aankom? Indien ons sou voortgaan, sou ons die samewerking van die hele span nodig hê. Ons het weer eens gekniel en ons lewens in God se Hand geplaas. Ons het daarna in die motor geklim en na die grenspos gery.
Die grenspos was net oor die bult. Ons harte het wild ge en ons het in stilte gebid. Toe ons bo-op die bult kom, kon ons net anderkant die grenspos die ligte van die dorpie sien skyn. Binnekort sou ons by die grenspos wees! Skielik, soos met een stem, het ons uitgeroep: "O God, red ons asseblief!"
Op daardie oomblik word al die ligte in die dorp uitgedoof. Toe ons die grenspos nader, sien ons wagte wat in hulle voertuie spring en na die dorp toe jaag. Stadig, met kloppende harte, het ons tot by die hek gery.
Daar was net een wag oor. Terwyl hy ons vorms nagegaan het met 'n flits, het hy baie senuweeagtig gelyk. Binne-in die motor het hy met die flitslig direk op die oop kompartement gelig en ons het net asem opgehou! Toe sê hy: "Ry maar voort, maar julle kan nie in hierdie dorp oornag nie. Ry tot by die volgende dorp!"
Ons is oomblikke later deur die donker dorp. Broer "Elias" het tegelykertyd gelag en gehuil van vreugde. Vol blydskap het ons die Here gedank! Broer "Elias" het omgekyk en gesien dat al die dorpsligte weer gebrand het! Ek is nog steeds verbysterd oor die gebeure. Die kragonderbreking by die dorp het die wagte by die grenspos genoodsaak om die dorp se winkels en stoorplekke teen vandale te gaan beskerm. Die een wag wat agtergebly het by die grenspos het sy lig op die oop kompartement laat val en tog nie ons kosbare vrag raakgesien nie! God het sy oë verblind! Hoe wonderbaarlik het God nie ingegryp nie! Wat broer "Elias" daardie nag geleer het, kon ek hom nooit leer nie. As gevolg van hierdie les oor God se sorg en beskerming, het hy een van ons beste koeriers geword. Dit is nie deur mag of gesag dat God ons help om sy kosbare Woord aan die Christene agter die kommunistiese grense te bring nie - dit is slegs deur die Gees van die almagtige Christus!
[Hierdie is die getuienis van broer "Paul", een van Underground Evangelism se moedige koeriers].

Indeks     Index