DIE NUUS VAN JESUS
IS DIE GOEIE NUUS

  (Romeine 1:1-6)
Van Paulus, 'n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort. [Die Eenjaarbybel 1988].
Bybel_lees
  Die vergifnis wat Paulus en die ander apostels van God ontvang het, was 'n onverdiende voorreg. Daarmee saam het Hy hulle egter ook 'n sekere verantwoordelikheid opgelê: hulle moes die boodskap van Sy vergifnis aan almal oordra. God vergeef genadiglik die sondes van almal wat opreg in Hom glo. Ons geloof in Hom verbind ons egter ook tot 'n nuwe lewe. Paulus se nuwe lewe, 'n geskenk van God, het ook 'n nuwe roeping beteken, aangesien hy daarmee saam die verantwoordelikheid opgelê is om in die wêreld te gaan getuig. God roep u dalk nie tot sendingwerk in 'n oorsese land nie, maar Hy roep u - en alle gelowiges - beslis om getuies vir Jesus Christus en Sy verlossingswerk te wees!

Indeks     Index