DIE WONDER VAN DIE HUWELIK
  Dr. Fanie Bergh NG Kerk, Potchefstroom-Wes

Lees Génesis 2:20-25.
Nie almal sal met bogenoemde tema saamstem nie!! Daar is in ons dag soveel negatiewe denke en menings oor die huwelik - bykans een uit elke drie huwelike wat voltrek word, beland in die skeihof; jongmense van die teenoor-gestelde geslag woon saam; daar is 'n groeiende tendens dat jongmense as enkelinge wil leef, omdat hulle buite die huwelik in elk geval al die voorregte van 'n getroude lewe kan bekom en geniet.
En tog - die wonder van die huwelik laat Adam in ekstase uitroep: "Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek." Ja, vir Adam 'n wonder, een soos ek, 'n helper!
Alhoewel die skeppings-verhaal nie in die eerste plek geskryf is om 'n volledige uiteensetting van die huwelik as sodanig te gee nie, kom waardevolle insigte ten opsigte van die huwelik wel na vore - ook vir ons in 2003! Uit bg. gedeelte, drie kort gedagtes:
* Die huwelik, die liefde vir mekaar, die één-wees, moet 'n wonder bly. Is die feit dat die huwelik en huweliksliefde amper tot niks gemaak word, nie bydraend tot die negering van die mooiheid, skoonheid, heiligheid - ja, wonder van die huwelik nie? Ons móét hard werk aan ons huwelike en ons nie laat intimideer deur 'n gees van "nie-juis-iets-besonders-nie", of 'n verbruikersmentaliteit ten opsigte van die huwelik koester nie.
* Die mens wil behoort. So het God ons gemaak. Adam kon met die naamgewing van die diere geen helper vind nie. Deur die opdrag aan Adam om aan die diere name te gee, het God by Adam die besef laat ontstaan: ek vind geeneen soos ek nie. Daardeur het hy sy alleenheid ontdek en 'n smag-ting na "een soos ek".
En toe die Here Eva na Adam bring, kon hy nie anders as om in ekstase uit te roep: "een soos ek" nie! Hy kry nou 'n helper, 'n gelyke, 'n gespreks-genoot, 'n beste vriend en 'n maat met wie hy één kon word.
Die wonder van die huwelik is dat ons 'n maat, 'n beste vriend kry, iemand aan wie ek kan behoort - permanent in 'n vertrouensverhouding.
* Die wonder van die huwelik is verder dat 'n nuwe en unieke verbinding van één-wees gevorm word. Daarom word hier gesê: "Daarom sal 'n man (of vrou) sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou (man) lewe, en hulle sal een word". (Hierdie waarheid word ook nog ten minste twee keer elders in die Bybel genoem).
Ja, die binding en band met die ouers, hoe kosbaar ook al, word nou na die tweede plek geskuif om plek te maak vir binding nommer een tussen man en vrou in die huwelik.
Natuurlik bly die kosbare gesinsbande van die gesinne-van-oorsprong (of vriend-skapsbande). Vir die huwelik om te gedy, moet daar egter ruimte wees sodat binding nommer een tussen man en vrou tot volvoering kan kom. Die wonder van die huwelik hoef nie te verbaas nie, want dit is God se instelling vir die mens.
Beleef en lééf die wonder van u huwelik!

Indeks     Index