TUSSEN HAMER EN AAMBEELD



 
Kleintyd op die plaas het ek kennis gemaak met 'n blaasbalk. Dit was 'n bruikbare instrument om yster mee te smee. Dit werk met steenkool wat in die kolebak gegooi en aan die brand gesteek word. Die ysterstaaf word in die brandende kole geplaas en wanneer die slinger gedraai word, blaas die blaasbalk die vuur aan wat teen 'n baie hoë temperatuur brand. Die yster word rooiwarm en is dan gereed om op die aambeeld geplaas en gevorm te word met 'n stewige hamer. My taak was om die blaasbalk se slinger te draai om die yster te verhit.

Tussen hamer en aambeeld is ook 'n uitdrukking in Nederlands wat beteken dat ons "tussen twee slechte dingen moeten kiezen". Tog hou dit vir my onderliggend ook 'n ander dieper betekenis in:
  • Die smid vorm die yster soos hy dit wil hê.
  • Die yster kom in die vuur, en dan op die aambeeld.
  • God, ons Heer en Meester, vorm ons soos Hy ons wil hê.
  • 'n Karakterstudie van Abraham, Sara, Isak, Rebekka, Josef, Jakob, Petrus, Paulus en talle ander Bybelse figure dien tot ons bemoediging, want in hulle sien ons dat God elkeen van hulle gevorm het soos Hy hulle wou hê.

    Elkeen het sterk karaktereienskappe gehad, maar was ook vol swakhede en gebreke. God smee ons tussen hamer en aambeeld nadat ons in die vuur beland het. In Ps. 66:10 sê die Psalmis: "Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter." En Job sê: "Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom" (Job 23:10).

    God se grootste taak is om my 'n toonbeeld van Sy liefde te maak. Hy wil van my 'n pronkstuk vir Hom maak. Ek moet seën en nie vervloek nie. Wanneer is byvoorbeeld die "regte tyd" om kwaad te word? Wanneer dit Sy Koninkryk raak. Nie wanneer ek in my eer gekrenk word of wanneer iemand my beledig nie. Ek het eintlik niks wat geskend kan word nie. Al my goeie dade is "soos 'n besoedelde kleed" voor Hom (Jes. 64:6).

    Alles wat ander aan my doen om my te na te kom, moet ek met liefde beantwoord. Ek moet 'n kanaal wees waardeur Hy Sy liefde op hulle wil uitgiet. Ek het van nature nie liefde in my nie. Alles wat uit myself is, is vlees wat Hom nie kan behaag nie. In 'n proses van loutering leer ons om aan die Here vas te hou en in Hom ín te groei totdat die vyand ons nie van Hom kan losruk nie.

    Ek dink aan die plaas waar ek grootgeword het. Daar was 'n plek met die naam "Die Wondergat". Daar word vertel dat gedurende die oorlogsjare (Tweede Vryheidsoorlog), "Die Wondergat" vol water was. In ons tyd was dit egter droog, maar met pragtige natuurskoon en met kranse waar die bome in die rots ingegroei het. Só wil God hê ons moet in die Rots ingroei. Dis moeilik om in die Rots wortel te skiet, maar genadiglik bied die Rots skeurtjies en daarin kan jy begin groei. Dan word jy in die Rots geanker en geen storm kan jou uit die Rots uitskeur nie, want jy hou aan die Rots vas en meer nog, die Rots hou jou vas. Word geanker in die Ewige Rots!

    Laat dít ons gebed wees tot die Groot Beeldhouer: "Vorm my en maak my net soos U wil, totdat ek aan U Beeld gelykvormig is."

    © Dr. J J Venter


  • Indeks     Index