GOEIE NUUS / GOOD NEWS
Tel: +27 18 293 1996 Posbus 1957 Potchefstroom 2520 Suid-Afrika
ENGLISH
WELKOM!
DIE "GEBOORTE" VAN GOEIE NUUS/
GOOD NEWS
'N WONDERWERK!

Op verskeie maniere en by verskeie geleenthede het die Here met ons gepraat oor die publikasie van 'n Christelike koerant. Die aanhaling, "One drop of ink makes thousands, perhaps millions, think," het ons aangegryp omdat ons besef het dat die geskrewe woord baie mense bereik en in huise kom waar predikante en geestelike leiers nie altyd kan kom nie. Verder is die geskrewe woord ook nie vlietend van aard soos die gesproke woord nie en kan dit by herhaling gelees en bepeins word.

Aangesien ons albei "uitgebrand" het na sewentien jaar in die voltydse bediening en geen voltydse beroep meer beoefen het nie, maar deeltyds op allerlei maniere moes probeer "om die pot aan die kook te hou", was daar geen manier waarop ons so 'n projek kon aanpak nie!
Op 7 November 1996 het die Here ons uitgedaag om "op die water te loop" (Matt. 14:28-32). Hoewel ons baie gevas en gebid en hierdie visie met medegelowiges gedeel het, het daar niks gebeur nie. Op 7 Maart 1998 egter, het 'n persoon die Stem van die Here gehoor en gehoorsaam en aan ons die nodige rekenaartoerusting van ongeveer R12 000 geskenk!

Kort hierna was daar nog twee persone gehoorsaam aan die Stem van God en kon ons verdere programmatuur bekom teen R5 000. Eersgenoemde persoon het ook R4 000 ten opsigte van die drukkoste van die eerste uitgawe geskenk. Gedurende April 1998 het die eerste beskeie uitgawe van Goeie Nuus/Good News die lig gesien!

Geloofsbelydenis
5 voor Middernag?
Argief
Advertensies
Donasies
Eindtyd

Dit het ons voltydse strewe en bediening geword om die Blye Boodskap van Jesus Christus uit te dra. Ons het begin om 10 000 eksemplare van huis tot huis in Potchefstroom te versprei met die bede dat die inhoud mense sal aanspoor om hulle lewens opnuut aan God toe te wy, om bemoedig en versterk te word, en om met volharding die geestelike wedloop te voleindig. Presies 'n jaar later (1999) het die Here ons opgeroep om ook na Klerksdorp uit te brei. Die oplaag het vermeerder na 22 000 eksemplare per maand.

Stilfontein en Hartbeesfontein was volgende aan die beurt en sedert Mei 2000 is maandeliks 27 000 koerante gratis van huis tot huis versprei. 5 Junie 2001 was 'n verdere hoogtepunt in die bestaan van Goeie Nuus/Good News toe ook na Orkney uitgebrei is. Sedert daardie dag word maandeliks 'n oplaag van 31 000 koerante van huis tot huis versprei in die POTCH/KOSH-area in Noordwes.

Hierna volg Parys (2004), Ottosdal, Tosca en Ventersdorp (2005), Molopo-omgewing (2006), Delareyville (2007) en Fochville (Januarie 2009).
Die "klein begin" het dus gegroei van 1 dorp (10 000 koerante p.m.) in 1998 tot 12 dorpe (40 000 koerante p.m.) in 2009.

Net soos wat Paulus in die nag 'n gesig gesien het dat daar 'n Macedoniër staan wat hom smeek en sê: "Kom oor na Macedonië en help ons!" (Handelinge 16:9), roep daar telkens uit ander dorpe stemme wat ons vra: "Gee die Goeie Nuus asseblief ook in ons dorp uit!" God ons Vader het gehoor en twee kosbare Christene aangespoor om ons te help om Wolmaransstad, Schweizer-Reneke, Koster, Derby, Viljoenskroon, Vredefort, Sannieshof en Biesiesvlei -- nog AGT DORPE -- maandeliks te borg! Ons bedien nou dus 20 dorpe met 45 000 koerante p.m. Tot op datum is daar reeds meer as 7 300 000 eksemplare gratis versprei! Maar die GROOTSTE van alles is dat mense se lewens gedurende die afgelope 18 jaar onherroeplik verander en aangeraak is!

Goeie Nuus/Good News is 'n nie-winsgewende, onafhanklike gesinsbediening wat aan geen Kerkgenootskap of spesifieke gemeente gekoppel is nie. Ons poog om alle ware gelowiges, ongeag Kerkverband, te bedien en ook om die Blye Boodskap aan almal wat dit nog nie gehoor of hulle eie gemaak het nie, oor te dra.

Die koerant se gratis verspreiding word moontlik gemaak deur advertensies en blymoedige gewers wat gehoorsaam is aan die Stem van God. Ons glo dat die Here elkeen sal beloon wat daartoe meehelp dat hierdie koerant maandeliks aan ongeveer 180 000 lesers beskikbaar gestel kan word. Hy, die goeie Gewer, se seëninge en barmhartighede is elke dag nuut en ons bede is dat u elkeen dit daagliks sal ondervind!

Dikwels gebeur dit nog dat ons "op die water moet loop" om 'n spesifieke koerant die lig te laat sien, maar ons bring aan God al die eer wat getrou is en ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Daarom is dit met groot jubeling dat ons kan getuig dat ons sedert April 1998 reeds meer as 7 300 000 koerante gratis versprei het! Diegene wat na aan ons leef en bewus is van ons omstandighede, kan saam met ons net in alle ootmoed sê:
Dit is net die HERE wat dit kon bewerkstellig!

"Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God, die groot Koning oor al die gode. Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!"
(Ps. 95:1-3,6 Nuwe Vertaling).
- Redaksie


Hersien: Mei 2019