ONS STEL BEKEND... NG Kerk Stilfontein-Sentraal |
|
  |
Ds. Francois van Heerden Wat 'n voorreg om deel te kan wees van die Bruid van Christus! Wat 'n belewenis om as Kerk van die Here Jesus gereed te maak vir die opwindendste van alle gebeurtenisse - die koms van die Bruidegom! Vanaf 13 Oktober 1960 het God dit in Sy wysheid so gewil dat 'n tweede gemeente in Stilfontein, midde-in ’n opkomende en bloeiende mynbedryf, tot stand sou kom. Die geskiedenis van hierdie gemeente is kleurryk en deurgaans gekenmerk deur transformasie en vernuwing. Die 10 leraars en talle kerkraadslede wat in die afgelope 40 jaar deel was van hierdie deel van God se Koninkryk op aarde, kan getuig hoedat die Koning onbekwame mensewerk wonderbaarlik gebruik om sy Kerk te laat groei. Vandag is Stil-fontein-Sentraal 'n gemeente met ongeveer 2 100 lidmate. Die gemeente is in 72 geografiese wyke ingedeel met 'n bykomende 25 omgee-groepe en word bedien deur di. Fanie du Plooy en Francois van Heerden met ds. Flippie Britz as die onmisbare pastorale hulp. Die hoofdoel van ons gemeente is om God as Heer en Koning in alles te erken en aan Hom die eer te gee. Hoewel die wêreld vandag nie veel erg het aan die Kerk en sy werk nie, beteken dit nie dat gemeentes hulself as oorbodig in die wêreld mag beskou en daarom net op hulself gerig sal raak nie. Om hierdie gevaar te vermy, is dit nodig dat gemeentes lewenskragtig deur die Gees gelei sal word en 'n honger en dors openbaar na geestelike groei en om al hoe meer die voorbeeld van Jesus Christus na te volg. Ek glo dat God in die besonder deur volgehoue gebede van die gebedsaksies hierdie lewenskragtige verandering in ons gemeente teweeg-gebring het. Lidmate begin meer as ooit tevore om hul Christenskap voor almal uit te leef en deur liefdesdiens en getuienis buite-staanders te bereik. Paulus stel dit duidelik dat die gemeente in alle opsigte moet groei ná Christus toe. Die uitdaging vir ons gemeente is dus daarin geleë dat lidmate saam 'n eenheid sal vorm en elkeen sy taak só sal vervul dat die gemeente opgebou kan word, sodat die wêreld bereik mag word. In die lig hiervan is erediensbywoning en meelewing baie belangrik in ons gemeente. Sprekend hiervan vertel die gekleurde glasvensters van die kerkgebou die verhale van menslike verval, maar ook van die genadige en verlossende werk van Jesus Christus. Uit hierdie verlossing kan en moet ons leef! Daarom mag persoonlike Bybelstudie nie verwaarloos word nie, omdat die Gees ons by die bepeinsing van God se Woord verander en voorberei vir ons taak. 'n Bybelskool en weeklikse Bybelstudies in kleingroepe verskaf die basis waar die warme, deurleefde onderlinge gemeenskap van gelowiges ervaar word. Omgeegroepe dien as 'n tuiste sowel as stimulus vir betrok-ke lidmate om hulle gawebediening uit te leef en by vele onmisbare projekte in die gemeente en die gemeenskap betrokke te wees (o.a. voedings-projekte by skole, kinderhuise, tuistes vir bejaardes, sendingaksies, jeugaksies, ens.) Die bediening van gebed deur 'n dinamiese en toegewyde gebedsaksie in die gemeente het deur die jare die ondersteunende grondslag en dryfveer geword waarvandaan talle aksies, projekte en sake suksesvol onderneem is. Ons gemeente is natuurlik dankbaar en trots op hardwerkende en toegewyde vrouedienslede wat die spreekwoordelike frase "wat is 'n huis sonder 'n moeder" onteenseglik waar maak. In erkentlikheid teenoor ons Vader wil ons graag glo dat al die werk wat in ons gemeente gedoen word, verrig word in gehoorsaamheid aan Hom deur Wie ons geroep is, in dankbaarheid teenoor Hom deur Wie ons verlos is, in afhanklikheid van Hom deur Wie ons gehelp, gelei en onderrig word! |