DIE DONKIE-OPPASSER
  Die donkies is weg, en die pa stuur sy seun om die donkies te gaan soek. In die tyd waarin hulle geleef het, was die besit van donkies baie belangrik. Hierdie diere is gebruik as vervoermiddel, as pakdiere om vrag te vervoer, as trekdiere en soms net om op te ry. Toe die donkies wegraak, was dit vir hierdie gesin 'n ramp. Amper soos wanneer ons dringend iewers moet heengaan, en die motor is stukkend!
Saul en sy dienaar het oral gesoek, en niks gevind nie. Na wie toe kon hulle gaan? Die dienaar antwoord: "Maar kyk, in hierdie stad is 'n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het (1 Sam.l 9:6). God gebruik egter dié verleentheid om met Saul te ontmoet. Hy moet na Rama toe. Die Hoogte. Soms is ons só besig met dinge in die Laagte, dat ons nie by die Hoogte uitkom om God se Stem te hoor nie. Dan gryp Hy in en bring ons na die Hoogte toe. Alléén met Hom, terwyl alles rondom ons vergete raak. En terwyl ons besig is om met Hom te verkeer, sal ons vind dat Hy sommer ook die probleme wat ons in die Laagte ondervind het, ook opgelos het. 1 Sam. 9:20 - "En wat die esels betref wat jy vandag al drie dae gelede vermis het - bekommer jou daar nie oor nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al wat begeerlik is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?"
In die Laagte moes hy donkies soek. Op die Hoogte het hy die geheim ontdek om te hoor hoe God met hom praat. En toe God met hom praat, kom hy in 'n nuwe dimensie van wandel met God en werk vir Hom. Saul hoef nou nie meer oor donkies besorg te wees nie; hy gaan oor die hele volk regeer en sorgdra vir hulle. God werk vandag nog steeds op soortgelyke wyse met sy diensknegte: Ons word weggeneem van donkie-oppasser tot volk-oppasser. Ons word na die Hoogte geneem. 'n Nuwe dimensie breek aan. Dit wat vir hom smart, pyn en lyding veroorsaak het, dryf hom na die Hoogte toe, en bring hom baie meer vreugde! Hy vind vervulling in wat hy doen!
Vind jý ook vervulling in wat jy doen? Of het jy nog nie jou lewensroeping gevind nie? Dalk het jy ook soos Saul dít wat jy so naarstiglik na soek, nie gevind nie. Wat is jou lewensdoel op aarde? Laat jou desperaatheid toe om jou na die Hoogte toe te bring. Dáár sal jy Sy stem hoor. Want jou Skepper is ook die Vervuller van jou lewensdoel op aarde. Kom uit die donkerte van die valleie, uit die krississe, met die opdraand na die Hoogte toe. Dáár sal jy perspektief verkry. Dáár sal jy uitvind: Nie dít wat vir die mens belangrik is, is altyd vir God ewe belangrik nie. In die lig van die panoramiese kaleidoskoop hoor en sien ons beter wanneer ons met God ontmoet. Ons kry Sy perspektief. Op die Hoogte sal jy hoor, soos Samuel vir Saul gesê het: "Beveel die dienaar dat hy voor ons uit verder gaan - en hy het verder gegaan - maar staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor." (1 Sam. 9:27).
Kom dan nou na die Hoogte. Kom en staan stil sodat jy lewensperspektief kan kry. Gee oor aan Hom, en Hy sal jou neem van 'n donkie-oppasser tot 'n volk-oppasser.

          Indeks