OP DIE OPERASIETAFEL VAN JESUS, DIE GROOT GENEESHEER
  "Jesus antwoord en sê vir hulle: "Julle moet geloof in God hê. Want voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see - en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur - hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê ek vir julle: Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry" (Markus 11:22-24).
Vir solank ek kan onthou, het ek die moesie (so groot soos my duimnael) reg agter my regteroor, net onder die haarlyn. Dit het my nooit gepla nie (behalwe dat dit 'n paar keer raakgesny is wanneer ek hare laat sny het).
Toe ek wakker word op 14 April 2004, was daar 'n verskriklike brandpyn aan die agterkant van my nek. By nadere ondersoek is gevind dat daar 'n klipharde bloedrooi knop van 4 cm onder die moesie gevorm het. Dadelik het ek gedink: kwaadaardig! Ek het egter besluit om Jesus se belofte in Markus 11 op myself van toepassing te maak. Ek het onmiddellik die "berg" aagespreek in die Naam van Jesus.
Dag vir dag het hierdie knop leliker geword totdat dit naderhand so 'n blouperskleur gehad het. Daagliks het ek egter hierdie "berg" aangespreek in die Naam van Jesus. Doemprofete was daar baie, maar ek het volhard in geloof.
Op 21 April het die plek op my nek só sleg gelyk dat my man gesê het ons moet 'n dokter gaan spreek. Ek het egter vir hom gesê: "Ek was alreeds by die groot Geneesheer, Jesus. Hy kan alles doen." Dieselfde oggend, by ons Silwerjare Selbiduur, het die groepslede vir my gebid. Ek het die Here gevra om nog verder met my uit sy Woord te praat. (Dit het vir my gevoel asof ek op 'n operasietafel was). Die Here het Psalm 27 aan my voorgehou. Ek was aangedaan van vreugde! Telkens voor 'n groot operasie het die Here aan my Psalm 27 gegee en ek het baie operasies ondergaan in die 60 jaar van my lewe.
Op 22 April was die knop nog bloupers, maar sagter en het dit gelyk asof dit 'n geel punt maak. Op Vrydag 23 April moes ek dr. Amos van der Merwe, 'n uroloog in Pretoria spreek. Hy het na die knop gekyk, gesê ek moet hitte daarop plaas en bly bid. (Hy is ook 'n kind van God).
Saterdagnag, 24 April het die sweer oopgebars en op Sondagoggend, 25 April was die plak baie kleiner en glad nie meer seer nie. Op Dinsdag, 27 April, terwyl ek hierdie getuienis skryf, is daar slegs 'n baie klein rofie oor soos na 'n operasie. Selfs die moesie het verdwyn! Dankie Jesus! U het die "berg" verwyder! Al die lof en eer kom U toe, want U is waardig om geloof te word!
- Ella de Villiers

          Indeks