WIE KAN DIE GOLWE BEHEER?
  Die koning wat gedurende die 11de eeu oor Engeland regeer het, het die snaakse naam Kanoet gehad, want hy was van Deense afkoms. Soos dit maar altyd met belangrike mense gaan, was daar diegene wat sy guns wou wen en hom van die môre tot die aand gevlei het. Meestal om sy guns te wen.
"Koning Kanoet is die magtigste koning wat ooit geleef het!" sou die een onderdaan sê. En dan verbeter 'n ander een weer daarop deur te sê: "Daar is niks wat u nie kan doen nie, o grote Kanoet!" Of: "U majesteit, daar is niemand of niks in die ganse heelal wat sal waag om u bevele te verontagsaam nie!"
Kanoet was ‘n man met genoeg gesonde verstand en hy het moeg geword van sulke belaglike lofprysinge. Hy het geweet hy was net 'n feilbare mens, en boonop het hy hulle selfsugtige motief vir dié oordrewe vleiery raakgesien. Een dag toe hy en van sy howelinge langs die strand stap, het sy ore weer getuit van die mooi praatjies oor hoe goed hy is. Net daar besluit hy om hulle 'n les te leer.
"Julle sê ek is die belangrikste man in die wêreld?" vra hy. "O glorieryke vors, daar was nog nooit ‘n heerser so magtig soos u nie; en daar sal ook nooit wees nie!" eggo hulle sy woorde.
"En julle sê alles op aarde is aan my onderdanig?" "O beslis, grote koning! Die ganse wêreld buig voor u, en gee u eer," klink 'n koor van stemme op.
"Nou ja, bring asseblief vir my 'n stoel, dan gaan sit ons daar onder langs die see. Ek wil vir julle iets wys." "U wens is ons bevel, Majesteit!" En hulle val oor mekaar om sy koninklike stoel oor die sand te dra.
Kanoet gaan sit. "Dit lyk my die gety is aan die inkom," sê hy. "Dink julle die golwe sal stop as ek hulle beveel om terug te trek in plaas daarvan om op die strand te breek?"
Nou was sy howelinge in ‘n penarie, want hulle het mos self in hulle oordadige lofwoorde gesê die koning kan alles en almal aan sy bevele onderwerp. Toe sê hulle effens minder geesdriftig: "Ons is seker die golwe sal u gehoor-saam, o Koning!"
Toe skree Kanoet: "Magtige Oseaan, my onderdane sê ek is magtiger as jy! Daarom beveel ek nou jou golwe: Draai terug! Moenie waag om tot by my voete te kom nie!" ‘n Rukkie het hy stil gesit en geamuseerd gekyk hoe die golwe hulle absoluut niks aan hom steur nie en tot by sy voete spoel. Die volgende golf spat oor sy duur koninklike skoene, en hol die sand uit onder die draagbare troon se pote.
"Hoe durf julle dit doen!" bulder Kanoet vir die branders. "Het ek julle nie verbied om naby my voete te kom nie?" Asof in antwoord op sy woorde rol ‘n groter brander nader en maak nie net sy voete sopnat nie, maar ook sy pragtige koningskleed! Sy offisiere staan soos ape rondom hom met hulle duur stewels knie-diep onder die water.
"Sien julle nou, my vriende?" sê Kanoet saggies. "Ek het nie naastenby soveel mag soos julle my probeer wysmaak nie. Leer nou vandag dat vleitaal die een wat dit uitspreek én die persoon aan wie dit gerig is, belaglik maak - want dit is nie waar nie, en valsheid strek niemand tot eer nie.
"Miskien sal julle nou ook onthou dat daar net één Koning is wat alle mag besit - Hy wat die wind en die golwe beheer; wat die heelal in die holte van Sy hand hou. Ek stel voor dat julle jul lof vir Hóm gee!"
Hulle sê dat die nederige Kanoet nie baie lank daarna nie sy kroon afgehaal en in die grootste een-voud geleef het tot die dag van sy dood. Uit: Stories vir die Lewe-Omnibus, Lux Verbi, 2002 "Sou julle vir My nie bevrees wees nie, spreek die HERE, of voor My aangesig nie bewe nie, wat die sand gestel het as grens vir die see, ‘n ewige beperking waaroor hy nie sal gaan nie? Al rol sy golwe, hulle is onmagtig; al bruis hulle, hulle sal daaroor nie gaan nie" (Jer. 5:22).

Indeks     Index