LOOF GOD
VIR VOORSIENING
  Werner het gepraat nog voordat hy 1 jaar oud was. As baba het hy egter herhaaldelik oorinfeksie gekry. Op 3-jarige ouderdom kom ons agter dat hy nog steeds praat, maar nie sinne nie. Ons het hom toe vir toetse geneem en die uitslag het getoon dat hy heeltemal doof in die regteroortjie was met 80% gehoorverlies in die linkeroor.
Ons het vir hom ‘n gehoorapparaat aangeskaf en ek en hy het vir 1½ jaar na Pretoria verhuis waar hy na die Goggies Kleuterskool (Universiteit van Pretoria se Kleuterskool) is omdat hierdie Kleuterskool in Taal en Spraak gespesialiseer het.
Hulle het die kinders elke tweede week op ‘n uitstappie geneem. Daarom moes ek elke aand prente soek en inligting in lêers liasseer. Prente, sinne en woordeskat was uiters belangrik vir sy ontwikkeling. Ma en kind moes ewe hard werk. Vandag is ek egter nie spyt daaroor nie!
Die meeste van Werner se maatjies is uiteindelik na òf die Sonitus Skool vir Dowes òf Trans Oranje Skool vir Dowes. Ek het egter in God en in my kind geglo en vasgebyt.
Werner Enslin
  Vir ure en ure het ons saam dinge gedoen en geleer. En vandag kan ek net sê: "Dankie Here!" Werner begin later sy skoolloopbaan by Laerskool Naauwpoort. Na 6 maande sê sy gr. 1 juffrou dat sy nie kan glo dat dit dieselfde kind is nie! Sy uitspraak het soveel verbeter omdat hy tussen "normaalsprekende" kinders was. Hy kry aan die einde van die jaar die prys as leerling wat die beste vordering getoon het! Ek plaas hom later oor na die Onderwyskollege se skool (die Christenskool) en daar word Werner ook "bekroon" vir al die hulp wat hy verleen. Sodra hy iemand sien wat sukkel, neem hy hom "onder sy vlerk" en help dadelik. Hy verwerf daar ‘n sertifikaat vir die leerling wat die meeste Bybelversies ken.
Gr. 5-7 voltooi hy aan Potchefstroom Gereformeerde Akademie (later Totiusskool), ‘n klein privaatskooltjie met wonderlike Christen-onderwyseresse. Hy eindig sy laerskoolloopbaan daar met ‘n spesiale toekenning van die Rotariërs vir o.a. die mees toegewyde leerling.
Die voorsitter van die skool, prof. Wynand Putter meld in sy toespraak dat Werner ‘n kind met ‘n gebrek is wat "eintlik nie ‘n gebrek het nie". Sy gemiddelde persentasie in gr. 7 was 90% en hy was nie een dag afwesig in sy hele laerskoolloopbaan nie! Is God se genade en hulp nie kosbaar nie?
Ek was werklik bekommerd oor ‘n geskikte hoërskool waar Werner goed sou kon aanpas. Ek het dit ‘n saak van gebed gemaak en die Here het geantwoord. Op 17 September verlede jaar gaan ek na Ferdinand Postma se "ope dag" vir gr. 8-leerlinge. Die hoof verduidelik beleid en prosedures en eindig sy voordrag met die volgende woorde: "In hierdie skool doen ons niks sonder God nie." Dadelik weet ek dat my keuse reg was en ek sê: "Dankie, Heer. Ek is by die regte skool." Nogtans berei ek Werner voor daarop dat hy dalk nie sulke hoë punte sal behaal soos in die Laerskool nie.
Die dag toe ek die registrasiegeld by die skool moes inbetaal, staan ek in ‘n lang ry en skielik voel ek ontsettend hartseer. Trane begin oor my wange biggel en ek dink: "Gestel net dinge werk nie vir Werner uit by die skool nie. Waarheen gaan ek my dan wend?" Toe ervaar ek ‘n sagte aanraking van die Here (soos ‘n ouer wat sy kind vashou en vertroos).
Dadelik het ‘n kalmte my hart gevul en ek het vir die Here gesê: "Dankie! Vandag gee ek my twee seuns in U hande oor."
Werner geniet sy hoërskoolloopbaan vanaf die eerste dag. Hy is eers alleen omdat die ander kinders nog nie dadelik met hom gesels nie, maar met sy spontaneïteit en entoesiasme maak hy gou vriende.
Hy is deel van die ontgroeningsproses en al die matrikulante behandel hom soos enige ander kind. Die ys gebreek, word hy deur almal aanvaar.
Skolasties vaar hy ook baie goed en sy punte wissel van 71-94%. Was dit nie vir die Here se groot genade en ondersteuning nie, sou ons nooit so gevorder het nie. Die Woord is so waar: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." (Fil.4:13)
‘n Verdere wonderwerk word deur gebed ‘n werklikheid! Ons het vir Werner ‘n FM-sisteem nodig by sy gehoorapparaat om byklanke uit te skakel, veral in die skool. Wanneer ‘n gehoorgestremde persoon stilstaan of sit en ‘n motor of wind of enige ander geluid kan ook gehoor word, "sny" dit alles vir hom af. Dink hoe bevoorreg is mense wat normale gehoor geniet!
Op 14 Augustus 2002 vind die wonderwerk plaas! ‘n Anonieme persoon skenk aan ons ‘n groot bedrag wat ons in staat stel om die Sisteem aan te koop!
Ons kort egter nog R2 000 en ek probeer planne beraam hoe om hierdie tekort aan te vul. Nog ‘n persoon wat anoniem wil bly, betaal R2 000 in ons bankrekening in!
‘n Groot dankie aan die Here dat daar nog sulke onselfsugtige mense is wat ander se lewens en omstandighede verander deur te help en te onderskraag! Ons sal daardie dag nooit vergeet nie! Loof die Here!
Dankie ook aan Mnr. Labuschagne en personeel van Hoërskool Ferdinand Postma. Met God saam is ons almal WENNERS!
Esme Enslin.
Sel: +2783 512 9067.

Indeks     Index