IN DIE SPORE VAN GEREGTIGHEID | |
  |
In Ps. 23:3 staan geskryf: "Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil." Wat sou hierdie enkele sinnetjie vir ons beteken? Wat is "spore van geregtigheid"? Die Nuwe Vertaling sê: "Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam." 'n Ander vertaling lui: "He helps me do what honours Him the most" (Living Bible). Nog een: "He leads me in the paths of righteousness [Uprightness and right standing with Him…]" (Amplified Bible).
Dan vind ons nog in die Strong's woordeboek die verduidelik-ing van wat "geregtigheid" o.a. beteken, nl. "Om die regte mate en gewigte te hê, om reg te regeer, om reg te laat geskied, om reg te praat, om moreel reg te lewe."
Ons kan dus hieruit aflei dat "geregtigheid" hier beteken om te doen en te lewe soos God wil hê ons moet doen. En omdat die HERE my Herder is, lei Hy my om sy wil te doen, of om ooreenkomstig sy wil op te tree. Wanneer ons toelaat dat ons Herder ons lei, sal ons tevrede wees en rus hê. Dan sal ons nie in die moeilikheid kom, ons voet teen 'n klip stamp, of in 'n sloot val, of van 'n krans afstort nie, want Hy rig ons op sy pad van geregtigheid. Sy wil is die beste vir ons. Hy maak nie 'n fout nie. Wanneer ons egter ons eie pad volg, kan ons Hom nie blameer as onheil ons tref nie. Ons durf nie vra: "Hoekom maak U so met my" nie, want ons het dit oor onsself gebring. Ons Herder is die Goeie Herder wat weet waar die groen weivelde is, en waar die waters van rus is waar Hy ons wil verkwik. Daarom is Hy daarheen op pad met ons. Maar wanneer ons wegdwaal, sal ons nie daar uitkom nie. As ons na sy stem luister, sal ons kan sê: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my." Op sy pad van geregtigheid sal sy stok daar wees om die wolwe mee weg te hou sodat hulle my nie verskeur nie, en sy staf sal daar wees om my te rig en te beskerm, my te waarsku teen gevare; sodat ek sal wéét wat geregtigheid is. Die Amplified Bible sê: "Your rod [to protect] and Your staff [to guide], they comfort me." Sy beskerming is slegs tot ons beskikking wanneer ons op sy pad loop, nl. sy wil doen wat Hy aan ons bekend maak. Laat ons dan ons oog gedurig op Hom hou, ons Leidsman en Voleinder van die geloof (Heb. 12:2). |