"KOEëLS DEUR MY LIGGAAM
  DEUR LAURIE HALLET

Die dag van 5 Oktober 2001 het helder en sonnig aangebreek. Daar was groot verwagtinge van wat die dag sou bring. Dit was die laaste dag van my skoolvakansie. Die tuinier, Henog, sou opdaag en ons wou swoeg om die tuin in volle bloei te bring vir die komende somer. Min kon ek raai dat my lewe teen die einde van hierdie dag onderstebo gekeer sou wees. Alles het aanvanklik mooi verloop. Ek moes net voor my terugkeer na die skool nog ’n paar dinge doen, dus was ek vroeg reeds aan die gang. Ons het betreklik vroeg middagete genuttig en daarna wou ek die tuinrommel na die stortingsterrein neem en Henog by sy huis aflaai. Daar was egter ’n paar goed in die kattebak wat uitgehaal moes word voordat ons die sakke vullis kon insit. Ek vra Henog om my te help om die bagasieruim skoon te maak en sê ongeërg: “Wanneer jy die goed na binne geneem het, kan jy jou straatklere aantrek sodat ons net na twee kan vertrek.” ’n Alledaagse opdrag wat ons wêreld onderstebo sou keer. Ek kom om die hoek van die huis en gewaar twee goedgeklede jongmanne wat hulle eie koers kies deur die tuin.
Ek vra wat hulle soek, kry geen antwoord nie, en omdat ek ’n onderwyser is, herhaal ek die vraag met klem. Hulle sê niks, maar die voorste kêrel bring ’n pistool tevoorskyn. Ek gil. Nie ’n gewone gil nie, maar ’n Godgegewe alarm vir die omgewing. Die man beveel my om stil te bly, maar ek kan nie ophou met skreeu nie. Hy skiet my twee keer. My wêreld spat uitmekaar. Die tyd verloop stadiger en alles is vertraag. Ek krimp ineen en hou aan skreeu-gil. Ek weet ek kan sterf weens bloedverlies. Ek steier na die lae muurtjie van die veranda en my eerste gedagte is: “Asseblief tog Here, moenie my neem voor ek met Ma gepraat het om haar te vertel wat gebeur het nie.” Ek onthou die paniekknoppie binne die voordeur, steier na binne, druk die knoppie en sak inmekaar op die vloer. Intussen het Henog die gegil gehoor en na die buurman se huis gedraf om te sien of hy in nood verkeer.
My geskreeu, waarin die voorsiening van die Here was, maak die hele omgewing “wakker”. Die vroue van die naburige huise kom aangehardloop en sien hoe die twee kwaad-doeners oor ’n muur spring en pad-af verdwyn. Die man dwarsoorkant ons huis het na krieket gekyk en ingesluimer, maar nou kom hy en sy vrou met ’n vaart oor die straat aangedraf. Die sekerheidsmaatskappy word ontbied en kom binne drie minute. Hulle bel 911 vir ’n ambulans (twee sou eindelik opdaag!) en ek het steeds gelewe! In ontsettende pyn, maar by my bewussyn en in staat om ’n foonnommer te gee waar my ma bereik kon word (ek het self nie deurgekom na haar nie). Daar was ook vriende wat ek moes skakel, mediese hulp, naam en nommer, en ’n klomp ander inligting wat ek moes voorsien.
En ek was daarvan bewus dat ongeag wat met my gebeur, ek veilig gehou is in Gods hand en niks my daaruit kon ruk nie. Woorde kan nie uiting gee aan hoe veilig en vreedsaam ek gevoel het nie. Of ek leef en of ek sterf, Hy was in beheer van al my omstandighede en sou my nooit laat los nie. Die gehaas na die hospitaal, die flinkheid waarmee die dokters en verpleegsters my gehelp het, die regkry van die operasiesaal - alles het rondom my geskied en ek wis dat ek veilig in Gods hande is. Toe die chirurg aan diens my meedeel dat ’n operasie nodig was om vas te stel of daar permanente skade gedoen is, het ek die tweede keer daardie middag geweet ek kon sterf. Terwyl ek wag dat ’n operasiesaal voorberei word, was ek in staat om die dood in die aangesig te kyk en te weet ek is reg met die Here, dat my wandeling met Hom die moeite werd was en ek in die ewigheid saam met Hom sou voortleef. Maar die Here het ander planne gehad. Daar was geen permanente skade nie, net ’n skramskoot aan die lewer wat vanself sou genees. Albei koeëls het dwarsdeur my liggaam gegaan en met millimeters twee belangrike are na die hart gemis, een aar van die longe en die ander van die regterbeen af. Ek was vier dae in intensiewe sorg, toe nog vier in ’n saal, en ’n verdere twee weke saam met ’n goeie vriend wat my ingeneem en versorg het. Maar die Here het Sy helende hand op my geplaas en vandag is my enigste letsel ’n fisieke een, en selfs dit vervaag. Net drie weke na my skokbelewenis kon ek weer my lewe alleen voortsit. Ek kon dit net doen omdat die Here my van dag tot dag die krag gee om die nodige te hanteer.
Daar was oomblikke van die “normale” reaksies: ’n oomblik se geheueverlies, paniekaanvalle, ’n vrees vir ongewone lawaai, mense en skares. Maar wanneer hierdie kom, neem ek hulle na die Here en Hy gee my die vrede en vermoë om elk te hanteer soos dit voorkom. Waarom het die Here toegelaat dat dit met my gebeur? Ek weet nie, maar weet wel dat talle mense die krag van God in aksie gesien het; dit was alles ’n groter getuienis as enige woorde wat ek kon geuiter het, en dit het meer mense bereik as wat ek my kon voorgestel het. My enigste reaksie tot die hele episode is: “Bring eer aan die Here, my Redder en Steun.”
Spesiale Uitgawe: Tekens van die Tye Deel 78

Indeks     Index