GENEES VAN BREINGEWAS
 
Alta Vorster

In Januarie 2002, net nadat ons vanaf Welkom na Carletonville verhuis het, het ek 'n plaaslike dokter gaan spreek i.v.m. met 'n besering aan my stuitjie wat ek kort tevore opgedoen het. Ek het ook vir hom gevra om 'n hormoontoets te doen aangesien ek lanklaas so ‘n toets ondergaan het.
Nadat hy die laboratoriumresultate ontvang het, het hy my meegedeel dat my prolaktienvlak baie hoog is. Sonder om te verduidelik wat dit behels, het hy behandeling voorgeskryf. Na 2 maande het ek die behandeling gestaak omdat dit te duur was.
Elke Donderdagoggend kom ongeveer 20 dames in Deelkraal bymekaar vir Bybelstudie. In Junie 2002 het Pastoor Kobus Coetzer, sy vrou Tish, en 'n paar dames ons groepie besoek en vir ons 'n boodskap gebring. Aan die einde van die byeenkoms het Tish vertel dat die Heilige Gees aan haar 'n "lapbediening" gegee het. Gedurende lofprysing en aanbidding toon die Heilige Gees aan haar mense wat 'n spesifieke behoefte of probleem het. Dan maak sy die persoon met 'n lap toe en bid vir hom/haar. Sy het getuig dat na afloop van eredienste verskeie mense na haar toe kom en sê dat dít waarvoor sy gebid het, wel hulle behoefte was.
Ek het my nie veel daaraan gesteur nie, want dit was vir my op daardie stadium baie vreemd en nuut. Ek en 'n vriendin het aan die gesels geraak en nadat Tish se dames ons dames bedien het, het 'n wildvreemde vroutjie na my toe gekom en my met 'n rooi lap toegemaak. Sy het vir my gesê ek gaan sien hoe goed die Here vir my binne die volgende 2 tot 3 maande gaan wees, en toe vir my gebid.
Dit het my nogal gepla, want die Here was so goed vir my en waarom sou Hy dan ekstra goed vir my wou wees? Op 25 Julie 2002 gaan ek na 'n Christen- dokter in die dorp om hóm te spreek i.v.m. my stuitjieprobleem. Ek noem terloops aan hom dat my prolaktienvlak hoog was. Hy wou toe weet hóé hoog (die gevaar is dat jy breinkanker kan kry as dié hormoon oorproduseer).
Op daardie stadium het ek nie geweet wat die telling was nie en het dit dadelik by die laboratorium laat toets. Die normale prolaktienvlak is tussen 2 en 28 ng/ml en my vlak was 103 ng/ml! Ek is summier na 'n spesialis-internis verwys.
Die oggend voor die afspraak met die spesialis het die Here vir my die volgende Skrifgedeelte gegee: Psalm 112:7,8 - "Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here. Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie."
Gedurende die breinskandering onthou ek toe van die rooi lap. (Let wel: die rooi lap het géén magiese krag nie, maar dit is wel die boodskap wat daarmee saamgaan wat belangrik is).
Terug in die spesialis se spreekkamer word ek meegedeel dat 'n breingewas gevind is. Terwyl die spesialis aan my die omvang daarvan verduidelik, het ek net aanhoudend gesê: "I am fine because God is in control of my life!" en hoe meer sy vir my sê, "You are not fine", hoe meer het ek herhaal dat die Here in beheer van my lewe is. Ek is toe op aggressiewe behandeling geplaas en moes haar 'n maand daarna weer besoek.
Met my volgende besoek op 28 Augustus 2002, nadat hulle weer my prolaktienvlak getoets het, kon ons skaars ons eie oë glo! Die vlak het gedaal van 103 ng/ml na 13.9 ng/ml binne 1 maand! Wat 'n wonderwerk!! Die spesialis noem toe aan my dat dit op sigself 'n wonderwerk was dat ek in so 'n vroeë stadium by haar uitgekom het.
Die daaropvolgende maande was nogal 'n beproewing. My prolaktienvlak het begin wipplank ry. Dan styg dit, dan verminder dit weer. Maar één ding het ek daaruit geleer: dit is nét God wat werklik kan genees! As Sy wonderwerkende genesingskrag nie deur elke pilletjie vloei nie, beteken die medikasie vir jou niks nie. Ek het ook geleer om oor elke pilletjie wat ek moes neem, te bid en die Here vir volkome genesing te dank, loof en prys.
Op 26 Februarie 2003, slegs sewe maande na aanvang van die behandeling, het die spesialis vir my gesê: "You know what, you don't need me anymore."
1 Petrus 2:24 (laaste gedeelte): "Deur Sy wonde is julle genees,” het vir my 'n werklikheid geword!
Prys die Here vir ewig en altyd! Hy was en is inderdaad goed vir my. Aan God al die eer!

Indeks     Index