DIE GOD VAN DIE ONMOONTLIKE!
  Retha van der Linde
(056) 818 1739


Het minute al vir u soos dae gevoel, en dae soos jare? Vroeg in Jan. 2004 kry ek 'n dagvaarding dat ek ABSA byna R300 000 skuld! Na 'n afspraak met 'n prokureur is ons na 'n advokaat verwys. My man en ek was totaal platge-slaan! Met skok moes ons uitvind dat ons eie seun bedrog gepleeg het en my naam gebruik het om skuld, waarvan ek geheel en al onbewus was, aan te gaan by die Bank.
Ek kon dit net nie glo nie! Twaalf jaar gelede het die Here vir ons die plot gegee waar ons tans woon en nou het die advokaat ons meegedeel dat ons alles gaan verloor wat ons in hierdie tydperk opgebou het. Dit was 'n harde slag! Ons was só bitter teleurgesteld in ons seun. Sekere dinge het egter vir ons duidelik begin word. Ek en my man kon voorheen nie verstaan hoe die kind so vinnig vooruit kon gaan en die duurste rygoed kon bekostig nie.
Ek het afskrifte gekry van sekere polisse en bankbesonderhede van 7 jaar gelede wat in my guns kon tel. Ons het dit aan die advokaat oorhandig en kon toe net bid, hoop en glo! Ek het net aanhou glo dat as GOD vir ons die plot gegee het, geen mens of bank die plek sal kan terugneem nie.
Ses spanningsvolle maande het verloop. Tog het ek net aanhou bid en glo. Op 'n dag het die advokaat my geskakel en gesê dat die Bank die saak teen my teruggetrek het en my seun aanspreeklik hou vir die skuld wat hy aangegaan het. Die advokaat het erken dat hy nie lig vir ons saak gesien het nie, maar ek het gesê ons dien 'n God wat die onmoontlike kan doen. Loof Sy heilige Naam!
Gedurende Junie 2004 tref 'n tweede skok ons egter. Ons het 'n vervoeronderneming en het trokke by 'n man aangekoop wat homself voorgedoen het as 'n "Christen". Hy het al die trokke se vragte gereël tussen die Kaap en Natal. Ons uitgawes het egter net meer en meer geword. Op 'n stadium ontdek ons dat 6 maande se verskuldigde geld nooit in ons bankrekening inbetaal is nie. Ons makelaar sê hy sukkel om die geld by die betrokke maatskappye in te vorder. Ek skakel toe self 'n maatskappy in Durban en die bestuurder deel my mee dat hy wel 2 maande gelede geld oorbetaal het in ons rekening. Nadat hy die beson-derhede vir my deurgefaks het, sou ek met ontsteltenis opmerk dat dit die makelaar se rekeningbesonderhede is - wel dieselfde bank en ons besig-heidsnaam, maar nie ons rekeningnommer nie! Wat 'n geweldige skok en teleurstelling!
Weer is ons prokureur toe, maar ons besigheid het begin vou. September moes ons boedel oorgee. Die bank het beslag gelê op die trokke en die plot was weer in gedrang. Ons sou alles verloor! Soveel verskillende emosies het aanhoudend deur my gespoel dat ek skaars kon Bybel lees of bid. Ek het maar net soos 'n drenkeling aan God vasgeklou.
Ons moes die plot so gou as moontlik verkoop anders sou ons dit in elk geval verloor. Vir 3 maande soek ons blyplek, lê duisende kilometers af op soek na iets, maar sonder sukses. Op 'n dag was ek só moedeloos dat die gedagte by my opgekom het om 'n einde aan my en my jong seuntjie se lewe te maak. MAAR GOD het wéér ingegryp! Hy gee aan my Gen. 26:24 "...Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën..." Ek weet toe opnuut: GOD is in beheer van my lewe!
Die Bank skakel my man en vra of hy nie kopers vir die trokke het nie. 'n Week later word die trokke verkoop. Toe is dit ons en die kopers van die plot. Daar is nie 'n manier waarop ons kon omdraai nadat die koopkontrak geteken is nie. Ons begin God egter onvoorwaardelik loof en prys en vertrou ons aan Hom toe. Een aand gee die Here vir my Ps. 91:7-14 en ons glo dat God ons sal deurdra. Toe gebeur daar weer eens 'n wonderwerk! Die koop word gekanselleer en die R20 000 oortrokke rekening wat ons by die Bank moes aangaan, word gedelg.
2004 was vir ons 'n baie rowwe jaar, maar ons het só na aan ons Skepper gekom. Ons het ondervind dat Hy getrou is en dat Hy waarlik die onmoontlike kan doen. Dien ons nie 'n groot God nie? Prys Sy Naam!

Indeks     Index