DANKIE, DANKIE JESUS!!!
 


Trix Rabe

6 Januarie 2006 was 'n dag soos geen ander nie. Ek het wakker GESKRIK!!! Met groot starende oë wat sien, maar ook nie sien nie! Ek het in die kamer rondgestrompel, aan goed geruk en gepluk, terwyl ek deurentyd skreeu, "Ek kan - ek kan - ek weet ek kan!" My man, Leon, het hom asvaal geskrik en glad nie geweet wat aangaan nie. Op daardie stadium het ek heeltemal beserk geraak, my tong raakgebyt, en bloed en skuim het uit my mond geloop. Voorwaar 'n skrikwekkende gesig!
Die ambulans het opgedaag en die paramediese personeel het my dadelik met vaardigheid gehelp. Ek is na die HF Verwoerd Hospitaal geneem. Dit was die ergste tyd van my lewe! Ek het heeltemal "uitgehaak", oor goed gespring, mense uit my pad gevee, die pype wat my moes help, uitgeruk, en op mense geskreeu. Hierna was ek gedeeltelik verlam en vir 3 volle dae kon ek nie praat nie. Ek kon nie sê wat ek wou hê of hoe ek voel nie. Verpleegsters moes my verdoof om my rustig te hou. Al wat ek wou doen, was net om huis toe te gaan waar my hondjies en bed vir my wag. Ek is daarna na Ga-Rankuwa Hospitaal oorgeplaas omdat daar 'n neurochirurg, prof. CH Meyden, verbonde aan MEDUNSA, beskikbaar was. Die drie weke wat ek daar was, het vir my soos 'n uitgerekte ewigheid gevoel. Na allerlei toetse en behandelings hoor ek die mooiste woorde: "'n Operasie is nie nodig nie. Jy sal binnekort huis toe kan gaan." Dankie, Jesus!
By die huis het ek baie goed aangesterk. Maar net soos met Job - toe ek dink alles gaan nou klopdisselboom - kry ek onver-wags op 13 Februarie 'n epilep-tiese aanval. Weer bevind ek my in die hospitaal met verdowingsmiddels wat my deurmekaar maak, en pype in my lyf wat my eindeloos irriteer.
Op 15 Februarie, nog 'n epileptiese aanval! Dieselfde prosedures volg. Na twee weke is ek uiteindelik weer by die huis.
Ek kan saam met Job sê dat wanneer die beproewing verby is, sal ek wees soos gelouterde goud. Dan kan die Here my gebruik om 'n lewende getuie van Sy onvoorwaardelike liefde, genesende krag en eindelose geduld te wees.
Deur soiets moes ek gaan om te besef dat daar soveel mense is wat vir my omgee, daadwerklik omgee. My naam het dwars oor die wêreld op gebedslyste verskyn. Letterlik soos "NEWS" - North, East, West & South. Opnuut het ek besef dat liefde alles oorwin en dat daar 'n ongelooflike band tussen kinders van die Here bestaan. Baie, baie dankie aan almal wat omgee, wat gebid het, gebel het, en aanhou glo het! Baie dankie aan my seun Deon wat uit Amerika gekom het om my by te staan. Baie dankie aan die res van my familie en my man, Leon, vir sy liefde en geduld.
Almal wat na my kyk, sien 'n wonderwerk van God. Baie, baie dankie, Jesus, vir nog 'n kans!

Indeks     Index