DIE ERFPORSIE | |
  |
![]() Op 'n baie jong ouderdom het 'n seun sy ouerhuis verlaat. Die huisverlating het gepaardgegaan met baie bitterheid en ongelukkigheid tussen hom en sy ouers, omdat hy baie opstandig was. Hy het hulle baie droefheid aangedoen. Die verhouding het breekpunt bereik en hy wou nie verder onder die gesag van sy vader en moeder staan nie. Hy het verkies om die wye wêreld in te gaan, sonder om ooit vir hulle te laat weet hoe dit met hom gesteld is. Vir baie jare het hy uit hulle lewe verdwyn. Hy was die afwesige kind. Later het hulle maar noodgedwonge aanvaar dat hulle hom nooit weer sou sien nie. Hy was vir hulle dood. Na 'n hele aantal jare, toe sy ouers al baie ver gevorder het in die ouderdom, het hy skielik weer opgedaag; maar met 'n verskuilde agenda. Hy was baie arrogant en het gekom om sy erfporsie in besit te kom neem sodra sy ouers tot sterwe sou kom. Die ouers het sy motief besef. Hulle het egter niks in gemeen gehad nie. Weer eens het bitterheid opgevlam: Is dit ál waarvoor hy teruggekom het? Sou hulle hom nou die erfgenaam maak? Hulle het jare gelede al besluit om hom te onterf. Ons lees in die Bybel van nóg 'n jongman wat sy ouerhuis verlaat het . Dit staan opgeteken in Luk. 15:11-32. Hierdie verhaal lyk so 'n bietjie anders. Die jongman het ook die huis verlaat. Later het óók hư teruggekeer, maar nie met 'n verskuilde agenda nie. Ook nie met bitterheid en arrogansie nie. Ons lees die woorde wat hy vir sy vader wou gaan sê: "Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge" (Luk 15:18-19). Die vader het hom egter met ope arms ontvang en hom in ere herstel. Watter een van hierdie twee jongmanne se lewens is op jou van toepassing? Wil jy ook graag jou hemelse erfporsie in besit neem? Neem jouself dan voor om met die regte gesindheid en motiewe die Here te dien. In Pred. 12:1 staan immers geskryf: "En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie." Bedink ook die verhaal van die tien maagde (Matt. 25), waar die vyf dwase maagde nie gesorg het vir genoeg olie om hulle lampe aan die brand te hou nie. Later, toe hulle klop en dringend roep, moes hulle hoor: "Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie." Na hierdie gelykenis sê Jesus: "Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie" (vs. 13). Hoe lyk jou verhouding met jou hemelse Vader? Wil jy óók jóú erfporsie in besit neem, maar jou saak is nie reg met Hom nie? Hoe sal jy dan vir 'n ewigheid met Hom kan saamwoon in Sy heilige teenwoordigheid? Hoe sal jy tuis voel saam met Hom as jy nooit 'n intieme verhouding met Hom gehad het nie? Maar soos met die verlore seun, is daar nog hoop vir elke mens: Kom berouvol na Hom en gee jou lewe oor aan Hom. By Hom is daar genade. Hy sê: "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie" (Joh. 6:37). Vir die vrou wat in egbreuk betrap is, sê Jesus: "Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie" (Joh. 8:11). Ja, jy moet heilig wees om eendag by Hom te kan woon. Deur die bloed van Jesus kan ons almal egter vergifnis ontvang. Ef. 1:7 verklaar: "In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade." Kom kniel by die kruis. |