HUWELIK EN GESIN ONDER DIE MIKROSKOOP (2) | |
  |
Ds. Piet du Toit Die huwelik is ‘n heilige instelling van ‘n heilige God. Dit is 'n permanente verbintenis tussen twee persone wat één word. Die hoofdoel van die huwelik is om God te verheerlik. Gen 2:24 is die instelling van die huwelik: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Dit is duidelik dat die huwelik voor die sondeval ingestel is. Dit is inderdaad ‘n heilige instelling van 'n heilige God. Sonde het die huwelik besoedel, maar ons as wedergebore kinders van die Here moet hierdie waarheid erken en bely. GEN. 2:24 GEE VIR ONS 'N PAAR DUIDELIKE STAPPE: Stap 1: ‘Verlaat’: Hierdie woord beteken letterlik dat die man sy rug op sy ouers draai en hom losmaak van hulle en die gesin waarin hy grootgeword het. Hy beweeg weg om ‘n eie, self-standige gesin as eenheid te begin. Ouers moet hul kinders dus ‘loslaat’ en hulle bystaan, begelei en seën. Stap 2: ‘Aankleef’: Hierdie woord beteken ‘vasgom’. Dit het die spesifieke betekenis dat man en vrou aan mekaar ‘vasgegom’ word in ‘n unieke verhouding en verbintenis waarin daar geen plek is vir ‘n derde persoon nie. Daar is slegs plek vir Hom wat hulle bymekaargebring het. In die praktyk beteken dit dat die huwelikspaar nie mag toelaat dat enigiets of enigiemand tussen hulle kom nie. Wanneer dit wel gebeur, word hulle van mekaar ‘weggedruk’ en verbreek dit hulle kommunikasie. Veral in die Ou Testament het kommunikasie goeie oogkontak beteken. Wanneer oogkontak verbreek word, word kommuni-kasie verbreek, en dit mag nie. Wanneer ‘n paartjie agterkom dat iets of iemand tussen hulle kom, moet hulle daadwerklik optree. Hier moet veral die man sterk leiding neem. Hulle moet die geskilpunt of persoon wat op ‘n ongesonde wyse tussen hulle gekom het, verwyder. Wanneer hulle harte bymekaar is, kan hulle as ‘n verenigde front uitbeweeg om dit wat rondom hulle is in die oë te kyk en te hanteer. Dus saam, nie verdeeld nie. Let op: Daar mag niks of niemand tussen julle wees nie, nie eens ‘n worshond wat tussen julle slaap nie. Stap 3: ‘Een word’: “Hulle sal een vlees wees”. Dit wys veral op hul fisieke liggaamlike eenwording, maar ook in alles één wees, nie verdeeld nie. Hier word ‘n baie belangrike beginsel neergelê: eers toewyding (commitment) en dan intimiteit. Dis die grondslag vir die huwelik! Dink net wat sal gebeur wanneer kinders van die Here na hierdie basiese beginsel terugkeer en dit eerbiedig, omdat hulle God as hulle God eerbiedig. Omdat hulle Hom eer, eer hulle Sy instellings. Onmiddellik sal ons die huwelik met diep eerbied en respek bejeën. Mag dit veral in Suid-Afrika plaasvind! Ds. Piet du Toit is ‘n pastorale berader en stigter van Lusanti Beradingsbediening. Hy bied landwyd interkerklike seminare aan, o.a. die Kruis-seminaar: Bevryding deur die Kruis. Hy woon in Kuilsrivier, Kaapstad. Kontak hom vir optredes by (021) 903 9829. |