|
![]() Madagaskar, 'n land van uiterstes. 'n Land van armoede, van veg om oorlewing, veg om net te kan bestaan. Maar dis God se land, Hy het dit geskep, Hy het die mense uniek gemaak en Hy stuur ons Uitreikspan daarheen. Vir die afgelope 10 jaar is die span betrokke in Madagaskar. In die begin was dit hoofsaaklik lede van NG Kerk Klerksdorp-Suid wat gegaan het, maar intussen het die span interkerklik geword, saamgestel deur God self. In Madagaskar is die geestelike nood baie hoog, die mense bly in verafgeleë plekkies waar daar min of geen kerke is nie. Predikante is daar ook nie orals nie, net "categists" wat die rol van 'n ouderling vervul. Hulle het geen opleiding nie, maar verskaf tog geestelike leiding aan die mense van hul dorpies. Van die "villages" is nog onbereik en weet nie van God en Sy liefde nie. Met die hulp van ons tolke, Rev. Tantely en sy vrou Yvette, besoek ons hierdie "villages" en bring aan hulle die wonderlike tyding van HOOP en LIEFDE. Gebeur wonderwerke vandag nog? Verseker ja!! God is nog steeds in beheer en Sy wonderlike beloftes word vervul. By Mahatsara, 'n klein afgeleë "village" het die span die Jesus-film aan die inwoners gewys. Sowat 90 mense was teenwoordig en na die wys van die film het 45 mense hul harte vir die Here gegee! Prys die Here!! By Amparhy het die span 'n kinderkamp gehou, maar die volwassenes het ook kom kyk. Met die kinders is speletjies gespeel, dramas opgevoer en getuienisse gelewer. Na die derde dag het die span ook die erediens waargeneem en getuienisse gelewer. Na die diens het 'n ouerpaar van een van die kinders hulle harte aan die Here gegee. Later het ook die plaas-like toordokter sy hart aan HOM gegee en al sy toorgoed verbrand. Hy is nou een van die pastors van 'n gemeentetjie in die omgewing. Voorvaderaanbidding is volop en hulle is onverdraagsaam teenoor Christene. Tydens een van ons besoeke het twee mans inwoners van die dorpie, waar die span sou tuisgaan, gewaarsku dat hulle moes sorg dat die span nie daar kom nie, want die twee mans sou sorg dat die span nie weer daarvandaan sou vertrek nie. Nodeloos om te sê, die span was daar, niks het gebeur behalwe dat die Jesus-film gewys is en baie mense, ook van omliggende dorpies, die Evangelie gehoor het nie. Die vyand wou verhoed dat die Woord versprei, maar die Here was getrou en baie het gehoor. Aan God alleen die eer! Die mense van Madagaskar is baie gasvry en niemand besoek hulle sonder dat daar saam koffie gedrink word of selfs saam geëet word nie. Self het hulle nie veel kos nie, maar is bereid om hulle laaste bietjie kos vir besoekers te gee. Die meeste van die kinders het chronies verkoue; as gevolg van wanvoeding het hulle geen weerstand nie. Malaria en gastroënteritis eis heelwat lewens, veral onder babas, omdat mediese sorg veral op die platteland onvoldoende is, maar ook omdat die meeste mense nie mediese dienste kan bekostig nie. Baie kinders doen ook brandwonde op omdat hulle te naby aan die vuur kom wanneer dit koud is. Die mense van Madagaskar is baie vriendelik en probeer altyd 'n geselsie met jou aanknoop, maar die taal bly 'n probleem aangesien hulle nie Engels magtig is nie. |