WONDE: DIE KENMERKE VAN DIE KERK
  Mike Burnard

'n Kollega wat dikwels na Sjina reis, het onlangs 'n ervaring gedeel wat 'n diepgaande invloed op my lewe gehad het. Een van sy "gunsteling" huiskerke in Beijing het 'n tradisie wat waarskynlik deur baie ander gelowiges in hierdie land beoefen word. Wanneer gelowiges vir hulle Sondagdiens bymekaar kom, begin hulle altyd die erediens deur mekaar 'n eenvoudige vraag te vra: "Wat was jou WONDE ter wille van Jesus hierdie afgelope week?”
Ek wonder dikwels wat ons antwoord sou wees as ons ons dienste met dieselfde vraag sou begin. Het my geloof my die afgelope week enigiets gekos? Per slot van sake, volgens die Skrif, sal 'n ware Kerk altyd 'n vervolgde Kerk wees. Elkeen wat 'n goddelike lewe in Christus Jesus wil lei, SAL vervolg word (2 Tim. 3).
Daar is nie iets soos 'n nie-vervolgde gelowige nie. Elke ware gelowige moet op een of ander manier kan vertel wat sy geloof hom gekos het. Die teken van ware Christenskap word aan wonde, en nie aan welvaart nie, gemeet. 'n Getroue Kerk word nie herken deur die grootte of prag van die Kerk nie, maar deur sy profetiese stem in die samelewing en sy relevansie in 'n gebroke wêreld.
Ek het gedink aan Paulus wat oor sy wonde vir Jesus kon getuig. ln Gal 6: l 7sê hy: "...want ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam."
In 2 Kor.11:23-24 vertel hy meer van sy letsels: "...ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring."
Soos in Paulus se geval is dit ook waar dat die uiteindelike maatstaf van enige gelowige nie is waar hy in oomblikke van gemak en gerief staan nie, maar waar hy in tye van uitdaging en teenkantings staan. Die krag van wat ons glo word per slot van sake net gemeet deur hoeveel ons bereid is om vir daardie geloof te ly.
Sommige Kerke in die Weste verwyder die kruis uit die Kerk omdat dit nie soeker-vriendelik is nie en liggeraaktes kan aanstoot gee. Tog leer die Skrif ons waardevolle lesse oor die wonde van Jesus en die wonde van die gelowige. In Johannes 20:19 lees ons 'n fassinerende inleiding. "Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
Nadat Hy dit gesê het, wys Hy Sy hande en Sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
Dit is baie insiggewend hoe Jesus Homself identifiseer - nie soos ek of jy dit sou doen nie. Hy stel Homself nie voor deur na Sy gesig te wys of selfs Sy stem te beklemtoon nie. Hy wys hulle bloot Sy wonde. Hy wys Sy spykerdeurboorde hande en maak Sy kleed oop om Sy swaard-deurboorde sy vir hulle te wys. Sy kruismerke het Sy kenmerke geword en daarmee 'n nuwe stel reëls en riglyne daargestel vir almal wat dit waag om Hom te volg. Sy wonde is nou sy ID-boek. Die dissipels herken Jesus aan Sy wonde en hulle is bly!
Vir ons as 'n moderne Kerk is dit uiters belangrik. Ons sal die opgestane Here altyd aan Sy wonde herken. Ons sal altyd 'n ware gelowige en 'n ware Kerk herken aan die offer wat gebring word en nie deur die seën wat verkry word nie. Ons sal altyd herlewing herken deur die wonde van diegene wat voorgegaan het en nie deur die gemak van diegene wat gevolg het nie. Ons sal die bestaan van ons Here net deur ons offers bewys, nooit deur ons oorvloed nie.
In baie lande in die wêreld sal die enigste identifikasie van 'n ware gelowige vandag aan sy of haar liggaam merkbaar wees. In Eritrea kan meer as 1 900 Christene die wonde wys wat hulle in aanhouding, in die gevangenis, en in metaal-houers opgedoen het. In Nigerië sal talle wese en weduwees net geïdentifiseer word deur die letsels van die dood en martelaarskap van hulle geliefdes.
In lande soos Bangladesj, Sri Lanka en Indonesië, sal gelowiges getuig van die wonde van Jesus en hoe Sy letsels aan hulle liggame vir hulle as Christene 'n eer is.
Die dissipels het Sy wonde gesien en was bly. Hulle was nie skaam of bedruk of bevrees nie. Hulle was BLY! Mag u ook met vreugde vervul word wanneer u lees van 'n oorwinnende Kerk wat deur hulle liggame kan getuig dat daar hoop deur die kruis is. Mag u ook bly wees en dan versigtig luister na Jesus se woorde nadat Hy Sy wonde gewys het: "Soos die Vader My gestuur het,stuur Ek julle ook." [Uit: Geopende Deure, April 2006].

Indeks     Index