SO IN DIE VERBYGAAN...
 



Hierdie gejaagde wêreld veroorsaak dat ons almal smag na rus, na stilte, na afklim van die altyd bewegende wêreldmallemeule. Soms voel dit asof 'n mens se gedagtes fladder soos voëltjies uit 'n nes op hul wieke die ewige ruimtes in... Ander kere dwaal jy tussen niks en niks - sukkel om jou menswees bymekaar te hou sodat dit nie opbrokkel en die skerfies langs hierdie pelgrims-pad bly lê nie.
Die verkenningstog is soms pynlike erkenning, soms onvrugbaar. Tog lê daar in die onbegryplikheid van baie dinge dikwels die motivering vir die mens se gees om sy grensloosheid mateloos na te vors... En so is dit die intreder op sy knieë wat 'n instrument word waardeur God se helende krag na homself sowel as na 'n gerypte, gekneusde en gans geskonde wêreld kan deurvloei.
Hier vind hy antwoorde op sy kwelvrae en raak opnuut bewus van die sin van die lewe. So is die biddende mens nie slegs 'n toeskouer van die lewensdrama wat hom elke dag afspeel nie, maar 'n vennoot van God wat kan meeleef met die lydendes en verwondes en Hom as 'n Liefde-God kan voorstel aan 'n wêreld in nood. Hierdie gee van jouself in gebed en daad, is 'n uitdaging wat aanspraak maak op jou beste vermoëns.
Om dit heelhartig te aanvaar, vra inspanning en toewyding. Maar as 'n mens werklik met jou hele hart begeer om God so te dien, sal jy gewillig wees om die prys daarvoor te betaal.
Indien ons nie hierdie geweldige roeping van God ons eie maak en beoefen nie, sal ons altyd wees soos 'n voël met geknipte vlerke wat nooit van die aarde kan opstyg in die volle glans van die son nie.
Daarom moet ons ook nie toelaat dat die oneindige moontlikhede van my vennootskap met God ingesluk en verongeluk word deur mislukkings en "vallei-dae" nie, maar ek moet uitstyg op die vleuels van gebed en in die krag van die Woord van God wat my meer as oorwinnaar maak oor elke omstandigheid. Want die rykdom en volheid van God se Woord en beloftes kan nooit uitgeput raak nie en bly selfs vir hierdie eeu nog van krag.
In hierdie immer donkerwordende wêreld, skyn die Son van Geregtigheid al helderder vir elke mens wat Sy Aangesig soek en Sy beloftes wil aanneem. Daarom kan ek deur die krag van gebed ondervind dat Hy in staat is om my "uit te lei in die ruimte" (Ps. 18:20) en ook elkeen vir wie ek intree, vry te spreek en te verhef bo die skaduwee van die dood en die angel van die sonde.
Huegene Venter ©

Indeks     Index